Vince Roberts wil die Wit Bulle volgende seisoen lei en wil ook sy plek in die SA skolespan verseker.Foto: Verskaf


Hulle is bestem vir groot dinge op die rugbyveld, en onder die regte leiding het spelers uit die Agterbaai nou hul oog op die groen en goud.

Vince Roberts, vuurvreter- veelsydige losvoorspeler van Stompneusbaai, het onlangs, tydens die Akademie-toernooi by die Hoërskool Jeppe in Gauteng, die veld aan die brand gespeel.

Roberts is vir die Leeus se o.18-akademiespan gekies, wat die toernooi gewen het. Hy het met sy veelsydigheid bo die res uitgestaan.

Roberts is tans in gr. 11 by die Hoërskool Monument in Krugersdorp. Sy span, Monnas, staan ook as die Wit Bulle bekend. Hy het aan Weslander vertel dat hy sy rugby daar geniet.

“Ek weet baie harde werk lê nog voor. Nou is my doelwit om volgende jaar die SA skolespan te haal.”

Roberts het ook verklap dat dit sy doelwit is om volgende jaar die Wit Bulle te lei.

Die Agterbaai se talent is nie te versmaai nie. Nog twee Agterbaaiers, Benett Jacobs (15), ’n veelsydige agterspeler, en Meliq van Rensburg, ’n skrumskakel van Laingville, is vir die Griffons-o.16-akademiespan gekies.

Jacobs het aanvanklik daarvan gedroom om sokker in Liverpool te gaan speel, maar droom nou van die groen en goud.

Dié twee spelers en Dmarco Basson van Piketberg speel vir Hoërskool Trio in Kroonstad. Al drie sê met harde werk is alles moontlik. Die verlange na die huis is soms groot, maar hulle druk deur en het ’n “eens-in-’n-leeftyd-geleentheid” om ook die Weskus trots te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article