St. Helenabaai se Dehlrin Coenraad met die bal by die doellyn.Foto: Noluvu Ludidi


St. Helenabaai het Saterdag karakter en veggees getoon teen een van die Boland Grootuitdaagbeker se agterosse, Vredenburg.

St. Helena kan wel nie meer vir die top-12 kwalifiseer nie, maar kan wel die kaarte deurmekaar krap vir die twee aanspraakmakers, Saldanha en Mamre.

Die span uit die Agterbaai moet nog dié twee spanne pak. Vredenburg, wat een van sy swakste seisoene in Boland beleef het, het egter gewys dat die span steeds veggees oor het. St. Helena, wat rustyd 17-10 voor was, het die wedstryd 28-24 gewen, wat ook die Burg Boys se 10de nederlaag die seisoen was.

Die twee spanne het egter goeie rekenskap van hulself gegee en Vredenburg het weer soos ’n mededingende span gespeel. Vredenburg het ’n baie beter tweede helfte gehad, maar die tuisspan het nooit opgegee.

Met die liga wat nou einde se kant toe staan, is dit steeds geen uitgemaakte saak wie die streekkampioen is nie.

Saldanha, die oorweldigende gunsteling om weer as streekkampioen gekroon te word, se lot is egter in hul eie hande. Die verdedigende Boland-kampioen pak die naweek Vredenburg en ’n oorwinning sal sake soveel makliker vir die kampioen maak.

Saldanha was Saterdag verwoestend teen Piketberg en het die stryd maklik met 82-12 gewen.

Mamre het op sy tuisveld die derby teen Young Hearts 23-20 gewen. Mamre, wat nog drie wedstryde oor het, sal hoop Saldanha val vas. Hulle sal egter ook hul kant moet bring as die Groentruie hul hand op die streektitel wil plaas. Mamre kan reeds die naweek, wanneer hulle Piketberg in Mamre pak, dit makliker vir hulself maak.

Met Velddrif en Paternoster wat op hul beurt hoop Mamre se wiele val af, is daar steeds baie op die spel vir die voorste vier spanne. Velddrif en Paternoster sal ook hul komende wedstryde moet wen om hul kanse lewend te hou vir ’n plek in die top-12.

Volledige uitslae:

Saldanha 82-12 Piketberg, St. Helena 28-24 Vredenburg, Mamre 23-20 Young Hearts, Hopefield 26-31 Paternoster, en Velddrif 31-14 Koringberg.

Swartland: Darling 35-14 Wesbank, Never Despairs 50-43 Moorreesburg, Abbotsdale 50-27 Riebeeck United, Porterville 45-43 Goodhopes en Saron 31-7 Villagers Wittewater.

Die naweek se program:

Weskus: Vredenburg t. Saldanha; Velddrif t. Langebaan; Paternoster t. Koringberg; Young Hearts t. Hopefield en Mamre t. Piketberg en St. Helenabaai los.

Swartland: Wesbank t. Moorreesburg; Abbotsdale t. Villagers Wittewater; Saron t. Darling; Riebeeck United t. Goodhopes en Porterville t. Never Despairs.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article