Dalende portefeuljewaardes, hoë inflasie, resessie, stagflasie.

Beleggers, en veral pensioentrekkers, beleef tans moeilike tye. Die risiko van foute met ernstige langtermyngevolge is tans hoër as gewoonlik. Hier is drie foute wat pensioentrekkers soms maak, en hoe hulle dit kan vermy:

Beleggersgedrag – moet nooit paniekerig raak nie

Paniek is ’n kragtige emosie wat jou in die moeilikheid sal laat beland indien jy toelaat dat dit jou beleggingsbesluite beïnvloed. Paniek laat jou dink jy moet iets doen. Die spanning wat dalende portefeuljewaardes veroorsaak, bring mee dat beleggers hul beleggings op die slegste moontlike tyd in kontant omskep en in laerisiko-beleggings soos ’n geldmarkfonds belê – met die gedagte om na die mark terug te keer wanneer dinge beter gaan. Wat ongelukkig dan gebeur, is wanneer die markte weer styg, sit die belegger op die kantlyn en wag vir die regte geleentheid om weer tot die mark toe te tree. Sodoende word die beste dae in die mark gemis en word tydelike verliese in permanente verliese omgeskep. Dit is dus uiters noodsaaklik dat enige aftree- en/of beleggingsplan voorsiening maak vir kort-, medium- en langtermyn-behoeftes in pas met jou spesifieke risikoprofiel, sodat die bates met die hoogste volatiliteit, soos aandele, nie verkoop word wanneer markte daal nie. ’n Goeddeurdagte beleggingsplan, en ’n onttrekkingsplan in die geval van pensioentrekkers wat jou unieke omstandighede, vrese en wense weerspieël, is noodsaaklik om hierdie fout te vermy.

Volgorde van opbrengsrisiko

Mense wat ’n gereelde inkomste uit hul beleggingsportefeulje ontvang, moet veral op hierdie risiko let. Die volgorde waarin die opbrengste op ’n portefeulje ontvang word, het ’n groot invloed op hoe lank die belegger se kapitaal ná aftrede sal hou. As ’n belegger in ’n lekker sterk bulmark (stygmark) aftree en in die eerste klompie jare ná aftrede goeie opbrengste verdien, sal sy kapitaal baie langer hou as die ongelukkige belegger wat tydens ’n beermark (daalmark) aftree en vir die eerste klompie jare ná aftrede verliese ly. Dit gebeur selfs al het die twee beleggers presies dieselfde gemiddelde opbrengs oor ’n tydperk ontvang en al onttrek hulle presies dieselfde bedrae. Die infasering van kapitaal na die beoogde langtermyn-portefeulje is ’n strategie wat kan help om hierdie risiko te bestuur.

Inkomstebelasting en fooie

Ons vind te veel kliënte benut steeds nie hul belastingbesparings behoorlik nie. Belasting wat vermy kan word, kan daartoe bydra dat beleggers ’n hoër nabelaste opbrengs op hul portefeuljes verdien. Danksy die kumulatiewe effek van belastingbesparings kan beleggers se aftreekapitaal ’n jaar of twee langer hou.

Dieselfde beginsel geld ten opsigte van die fooie wat betaal word. Vermy byvoorbeeld fondsbestuurders wat prestasiefooie hef. Maak seker jou beleggingsplatform hef ’n billike fooi en al jou beleggings word in ag geneem wanneer die fooi bereken word. Beding ’n redelike fooi met jou finansiële raadgewer. In moeilike tye, soos nou, moet al die partye saamwerk om jou kapitaal te beskerm.

Ten slotte kan ek net sê: “Hou goeie moed, want ná elke beermark volg ’n bulmark.”. Max van der Wath is ’n welvaartbestuurder by PSG Wealth Paarl. Kontak hom gerus by max@psg.co.za. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article