Afrikaans is ons almal s’n.

Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader. Maak ’n plan of dala wat jy moet.

Op 8 Mei 2025 word ’n groot mylpaal bereik wanneer die mooiste taal sy eeufees vier.

Afrikaans is reeds baie ouer as ’n honderd jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het. Afrikaans Amptelik 100 vier ’n mylpaal binne die langer bestaan van die pragtige taal: “Op 8 Mei 2025 staan ons taal 100 jaar sterk binne sy erkende amptelikheid, maar sy storie begin nie in 1925 nie. Sy komvandaan strek terug na die 1500’s met sy eerste klanke geskep deur ons Khoi-voorouers wat in die kombuis ’n omgangstaal moes skep om sy baas te verstaan en andersom. Vandaar die eerste vorm van ons taal: Khoi-Afrikaans, waarna as kombuistaal verwys is. Hy groei tot die eerste geskrewe Afrikaans wat in Arabiese skrif in die Bo-Kaap opgeteken word. En hy bly groei. Hy groei ten spyte van politieke kaping en misbruik, van ’n kombuistaal tot ’n universiteitstaal. Hoe trots kan ons nie wees nie.”

“Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap. Vir een van die jongste tale in die wêreld het Afrikaans gewys dat hy ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.”

“Hierdie taal, wat aan die suidpunt van Afrika staanplek gekry het en soos ’n reusekremetartboom sy wortels geskiet het, het van kombuistaal gegroei na ’n taal wat vandag deur die derde meeste mense in Suid-Afrika gepraat word. Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land – naas Zulu (24,4%) en Xhosa (16,3%) – met meer as 6,5 miljoen, oftewel 10,6% moedertaalsprekers in die land.”

“Afrikaans is sag soos ’n vrou. Afrikaans kan ook hard wees soos ’n grondpad. Afrikaans is ons ma en ook ons kinders. Afrikaans is Hollands bruingebrand deur die Afrikason, gesnoei en vaartbelyn gemaak deur jare van sensuur en swaarkry,” het Koos Kombuis eens in ’n toespraak gesê.”

Afrikaans Amptelik 100 beskou hierdie veldtog as ’n geleentheid om gesprekke tussen verskillende taalgemeenskappe oop te maak. “Dit gaan ’n inklusiewe feesjaar wees wat alle Afrikaanssprekendes gelyke geleentheid gaan bied om deel te word van die fees. Vir Afrikaans Amptelik 100 is elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans belangrik en gaan dit gevier word.”

Van nou tot dan is daar verskeie projekte en aksies saam met medewerkers en vennote om hierdie groot mylpaal te vier – van skolekompetisies, entrepreneursprojekte, nuwe storieboeke tot kompetisies van liedjies skryf en kosmaak. Die belangrikste van alles is dat almal se Afrikaans gevier gaan word – van Standaardafrikaans tot Kaapse Afrikaans, van Gariep-Afrikaans tot Afrikaans noord van die Oranjerivier.

“Afrikaans as taal is ’n huis met baie kamers en dit is juis daardie diversiteit en kragtigheid wat gevier gaan word. Dié veldtog maak die deur wyd oop om almal welkom te laat voel en in te sluit by die groot gesin van Afrikaans.”

“8 Mei 1925 sal onthou en herdenk word as een van die mylpale in die geskiedenis van die relatief jong Afrikataal,” sê Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.”

“Die vraag is egter vir wie en wat? Afrikaans se amptelike eeufeesvieringe bied dus die geleentheid en platform om die diverse oorsprong en wortels van dié Afrikataal te herontdek, te vier en te herbesin oor sy verlede, hede en toekoms; ook erkenning te gee aan die ontwikkeling van Afrikaans op ’n holistiese vlak as spreektaal en ’n dialoog te voer oor heersende vraagstukke en kwessies en die talle ongemaklike vrae.”

Voorts bied die vieringe ook die geleentheid vir die herposisionering van Afrikaans as inheemse taal binne ’n vernuwende, moderne, veeltalige Afrika-konteks.

Die span wat Afrikaans Amptelik 100 koördineer, is Giep van Zyl (nasionale koördineerder) en René Arendse (nasionale adjunk-koördineerder).

Indien jy as individu, instansie of sakeonderneming betrokke wil raak, besoek afrikaans100.org en ondersteun ons veldtog deur die aanlyn vorm te voltooi. Of kontak ons gerus by info@afrikaans100.org

Almal is genooi – jy, jy én jy.

Maak nie saak in watter kamer jou Afrikaans woon nie, solank jou hart vir die mooiste, wondersoetste taal klop.

Volg die veldtog op sosiale media by afrikaans100 om elke kompetisie en opwindende gemeenskapsuitreik te volg.

Awê. Dis dan dit. Net soe!

Meer inligting oor onder meer die projek as geheel, die missie en visie asook die vennote wat reeds die manifes onderteken het en só hul ondersteuning gegee het, is te kry by afrikaans100.org.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article