Dagga en hennep kan binnekort ’n groot werkskepper in die provinsie wees.


Werkskepping, ekonomiese ontwikkeling en ontwikkeling in die platteland – en dít alles te danke aan “aaptwak”.

Dít is die plan van die Wes-Kaapse regering, wat verlede week die Wes-Kaapse dagga-raamwerk en implementeringsplan (CanPlan) bekendgestel het. “Die CanPlan, wat in pas is met die sleuteldoelwitte van die nasionale dagga-meesterplan, behoort by te dra tot ekonomiese ontwikkeling, werkskepping, landelike ontwikkeling en armoedeverligting,” meen minister Ivan Meyer, LUR van landbou.

Dié plan dien as riglyn vir die verbouing van medisinale dagga asook hennep in die provinsie.

“Binne die dagga- en hennep-waardeketting gaan kleinskaalse groei, verwerking en kulturele kennis van genesingstoepassings baie honderde jare terug, geïntegreer in Khoi-, San- en Rastafari-tradisies,” lui die CanPlan.

Volgens die dokument is die Suid-Kaap se terrein die beste vir die verbouing van hennep, hoewel reën ’n uitdaging is. Hierteenoor is die binnenshuise verbouing van dagga die beter keuse as om die plante buite te laat groei.

Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê die CanPlan identifiseer verskeie landbou-geleide inisiatiewe.

“Landbou-geleide inisiatiewe sluit in die koördinering van belanghebbendes in die bedryf en die deel van inligting. Die CanPlan moedig verder samewerkende navorsing en proewe aan oor geskikte variëteite, voorligting en produksie-ondersteuningsdienste. Die doel is die skepping van nalatenskap, asook informele produsente en agri-verwerkers, sowel as die bevordering van dagga en hennep as ’n wisselbougewas as deel van verbeterde regeneratiewe omgewingspraktyke en om maatreëls te evalueer om unieke Wes-Kaapse hennep- en dagga-eienskappe te beskerm en te bevorder,” sê Sebopetsa.

Die potensiaal van die dagga-bedryf word op R28 miljard geraam en kan glo van 10 000 tot 25 000 werksgeleenthede regdeur die waardeketting skep.

Volgens die departement word dagga vir eie gebruik reeds verbou met veral die Weskus, dorpe in die Wynlande en die Suid-Kaap wat bekend is vir “laer graad dagga vir die massa-grootmensmark”.

Meyer sê die ontwikkeling, groei en sukses van die daggabedryf vereis ’n waardekettingbenadering om te verseker dat die Wes-Kaap uit hierdie bloeiende bedryf voordeel trek.

“Die bedryf het die potensiaal om alle vaardigheidsvlakke te absorbeer, insluitend lae, semi- en geskoolde arbeid. Deur dit te benut, sal dit bydra om ons landelike ekonomie te laat groei en werk te skep, wat hierdie regering se sleutelprioriteit is,” meen Meyer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article