’n Onderonsie in Citrusdal tussen twee mans en hul vermeende aanvaller het tot die dood van die aanvaller gelei.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die 35-jarige Frederick Fransman Maandag in die landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Fransman word daarvan beskuldig dat hy op Saterdag 4 Mei die 23-jarige Denzil Draghoender doodgesteek het.

Fransman het glo tussen 00:30 en 02:00 op Saterdag 4 Mei saam met sy vriende en sy suster gekuier.

Draghoender het na bewering daar aangekom, waarop Fransman en sy suster huis toe gegaan het.

Draghoender het hulle glo gevolg, maar hulle het hom uit die huis gejaag en die deur toegemaak, maar nie gesluit nie.

Draghoender het glo later teruggekom, die huis binnegestorm en vir Fransman en sy stiefpa aangerand.

Fransman het gepleit dat Draghoender hulle moet uitlos, maar dié het na bewering aangehou om hulle te slaan. Fransman het op die grond beland en na ’n voorwerp gesoek om Draghoender mee te stuit. Hy het ’n mes in die hande gekry en Draghoender in die struweling in die maag gesteek.

Draghoender is van die Citrusdal-hospitaal na ’n hospitaal in die Paarl oorgeplaas waar hy Dinsdag 7 Mei aan sy wond beswyk het.

Fransman staar ’n klag van moord in die gesig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article