Kelvin Liwani (30) het Dinsdag in die Moorreesburg-landdroshof verskyn nadat hy Sondagoggend om 03:15 in Fairview voorgekeer is met ?’n lewendige skaap in die bagasiebak van die voertuig waarmee hy onderweg was. Liwani kon geen redelike verduideliking gee waarom die duidelik gemerkte skaap in die bagasieruim was nie.
Donderdag 1 Februarie omstreeks 18:20 is menslike beendere onder ’n?boom op die Bessieheuwelplaas langs die Vredenburg-Velddrifpad gekry. ?’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en min besonderhede is so ver bekend.
Drie jong vroue is Donderdag 1 Februarie om 10:30 in ’n? bekende kettingwinkel in Clanwilliam voorgekeer waar hulle glo probeer het om Spot-on-vlooibeheermiddel vir ’n? vriend se hond te steel. Die vroue, tussen die ouderdom van 23 en 25, is op die veiligheidskameras dopgehou waar hulle die produk vir mekaar aangee, totdat die een vrou dit in haar broek gedruk het. Hulle verskyn Woensdag 28 Februarie in die landdroshof.
’n?Klawer-tiener (16) het Donderdag 1 Februarie in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn nadat sy Vrydag 26 Januarie om 23:00 ’n? 31-jarige vrou só erg aangerand het dat sy in Tygerberg-hospitaal in Kaapstad behandeling moes kry. Die slagoffer het glo vir haarself ’n bier gaan koop ná werk, en in die straat daarmee geloop. Die beskuldigde het na bewering probeer om die bier te gryp. Die slagoffer het probeer keer waarop sy met ’n baksteen oor die kop geslaan is.
Vrydagaand 2 Februarie omstreeks 23:00 het die polisie op ’n klagte van kindermishandeling gereageer, en ’n 43-jarige vrou van Phola Park, Ilinge Lethu, in hegtenis geneem toe vasgestel is dat sy haar sesjarige dogtertjie met ’n handdoek geslaan en haar in ?’n kas toegesluit het. Sy het Maandag 5 Februarie in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Jodian de Bruin (23) is aangekeer nadat hy Donderdag 1 Februarie om 02:00 in?’n stort in ’n huis in Wesstraat, Porterville, probeer wegkruip het. De Bruin het sy skoene buite die huis uitgetrek, toegang tot die huis verkry en in die stort gaan wegkruip. Die huiseienaar (47) se skoonma het hom wakker gemaak en vertel van die skoene wat sy buite sien staan het. Die huiseienaar het hierop lig in die stort sien skyn. De Bruyn het hom met ’n mes gedreig en met sy beursie en R200 gevlug. ’n Saak van huisroof word ondersoek en De Bruin het Dinsdag 6 Februarie in die landdroshof verskyn.
Donderdag 1 Februarie om 01:30 is ’n 29-jarige vrou en haar kêrel in Kraaistraat, Louwville, wakker gemaak deur haar ekskêrel wat teen haar voordeur gehamer het. Die ekskêrel het die deur oopgeskop en reguit na die slaapkamer gegaan waar hy haar huidige kêrel met glas aangerand het. Die vrou het gaan hulp soek en gesien hoedat die vermeende aanvaller saam met sy broers in ’n voertuig wegry. Die huidige kêrel moes mediese behandeling ontvang en is sy beursie en selfoon kwyt.
Nog ’n ekskêrel het Saterdagoggend 3 Februarie om 05:45 sy 29-jarige eksmeisie aangerand en op die grond gegooi. Sy was besig om vir werk klaar te maak toe Sibongiseni Nomachiwa (26) die huis in Palmietstraat, Witteklip, binnestorm. ’n Vriendin wat wou help, is ook aangerand. Nomachiwa, wat Dinsdag 6 Februarie in die Vredenburg-landdroshof verskyn het, het met albei vroue se selfone weggehardloop.
Op Saldanha het ’n 30-jarige vrou? ’n intimidasieklagte teen haar ekskêrel aangemeld nadat hy haar na bewering Sondagaand 3 Februarie met ’n mes gedreig het. Mzimasi Landingwe het Woensdag in die landdroshof verskyn hieroor.
In Januarie het die eksmeisie van ’n 29-jarige man sy huis in Bikostraat saam met vier ander mans en twee vroue op ’n dag betree. Een van die mans het die klaer met ’n vuurwapen gedreig. Die eksmeisie en haar span het met ’n bed, mikrogolfoond, musiekspeler, ’n TV en eetware in ’n? taxi van die toneel af gevlug.
Twee rowers het Sondagoggend 4 Februarie om 03:30 ’n? 67-jarige man in Spruitstraat, Witteklip, in sy hokkie oorval en met ’n panga gedreig. Die rowers het met sy selfoon, radio, sy beursie met R800 en ’n horlosie op die vlug geslaan.
Saterdagaand 3 Februarie om 21:15 het twee gewapende rowers die Bul Bul Spaza-winkel in Citrusdal betree en die klaer (43) gedreig. Sowat R6 800 en twee selfone is deur die rowers gebuit voordat hulle van die toneel gevlug het.
Thandazile Mbimbi (32) van Khayelitsha het Saterdag 3 Februarie in die Clanwilliamdam verdrink. Haar lyk is om 09:30 gevind.
Maandag 5 Februarie omstreeks 17:30 was Bewan Solomons (36), oorspronklik van Mitchell’s Plain, nog besig op ’n bouperseel in Kerklaan, Laaiplek, toe hy volgens ooggetuies van ’n leer af geval het. Hy is op die toneel oorlede.
Die Vredendal-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat Benjamin Ryk (40) Donderdagoggend 1 Februarie met ’n trekker en wa op die Dennegeurplaas gery en vermoedelik beheer verloor het. Hy is dood langs die trekker gekry.




