Daar is diegene wat oorwegend die gemak van sekerheid en seker-wees geniet. En dan kry jy diegene wat daarvan hou om die risiko te neem en die lewe met al sy onsekerhede aan te durf.

Met eersgenoemde bedoel ek daardie werk of loopbaan wat jy al vir jare doen of volg. Die werk of loopbaan waar jy nie hoef bekommerd te wees oor die oudag nie, want die pensioen sal daar wees. Laasgenoemde groep wil losbreek van die normale en uiting gee aan die inherente kreatiwiteit en skeppingsvermoëns.

Met albei scenario’s is daar natuurlik geen fout nie. Dit is nou maar eenmaal so en sal so bly voortbestaan. Ek is gefassineer deur ’n paar eenvoudige opmerkings wat ’n jongman onlangs met ’n groep lesers gedeel het.

Hy is van mening dat nie almal van ons bestem is om noodwendig deur konvensionele opleidingsinstansies die suksesleer te klim nie.

Dat daar ook diegene is wat deur eie inisiatief en kreatiewe vaardighede ook dieselfde sukses kan en mag proe. Sy verdere opmerkings om sy standpunt te verdedig, voer aan dat sowel die konvensionele as onkonvensionele manier van doen onderhewig is aan bepaalde beginsels. Dit sluit onder meer in dat ambisie, harde werk en veerkragtigheid van die boustene moet wees waarop hierdie sukses gebaseer word. Ek kon nie anders as om met hom saam te stem nie.

Ek is en sal altyd ’n voorstander wees van stewige skolastiese opleiding en onderrig. Tog het ek ook al die teendeel waargeneem waar mense selfs sonder hierdie onderbou ’n ruim mate van sukses in die lewe kon behaal. Die gelykmaker in hierdie geval is vir my die persoonlike ontdekking vir die individu om te bepaal aan watter kant van die spektrum hy of sy hom of haar bevind.

Hierin lê vir my ’n stuk bevryding. En van die grootste gelykmakers na my mening was juis die Covid-19-pandemie wat baie van ons uitgedaag het om anders oor ons lewensuitkyk te dink en te doen. Ek glo baie van ons van die een spektrum (die konvensionele) na die ander (nie-konvensionele) manier van doen moes oorskakel.

Verlies aan werk het daartoe gelei dat baie van ons buite die boks moes begin dink en doen om sodoende die pot aan die kook te hou.

Groot spronge van waagmoed met ’n gesonde dosis geloof daarby het vir baie mense ’n nuwe weg gebaan en geword.

Skielik is die 9-tot-5-realiteit vervang met ’n nuwe manier van doen.

Een waar die sekerheid van inkomste (veral finansieel) geskep moet word op kreatief vindingryke maniere. Wat egter vir baie mense tot nuwe insig bring, is die feit dat jy besef dat dit wat eens onmoontlik gelyk het, wel haalbaar is.

Meteens maak dit nie meer sodanig saak of jy daardie graad of vier of dalk glad nie ’n graad, diploma of sertifikaat het nie, want jou ervaring (skolasties of nie), gekombineer met die talente en gawes wat jy besit, kan nuwe deure vir jou oopmaak.

My respek en agting vir albei groepe wat in die aangesig van ’n globale krisis tot nuwe insigte gekom het oor waar jy jouself op die spektrum bevind en uiteindelik jou nuwe realiteit omarm.

Al is dit net die besef dat dinge in ’n oogwink kan verander en alles wat bekend is en skynbare sekerheid verskaf het in ’n oogwink kan verander, of die bevrydende wegbreek, vir die eerste keer, van dit wat jou voorberei het vir ’n nuwe werklikheid. Weg van die bekende na dit wat jou siel uiteindelik vir jare na smag. Om te waag. Om te skep en om ’n nuwe stuk betekenis te deel met ander.

Aanpasbaarheid in uiters onseker tye is hier vir my die wagwoord. Die skep van eie en nuwe moontlikhede die doel waarna gestrewe kan word en om hierdie moontlikhede tot voordeel van die self en ander in te span.

My refleksie op die afgelope twee jaar is een waar ek met nuwe oë na myself en die wêreld om my kyk. Vir die eerste keer het ’n jare lange sluimerende droom na vore gekom en kon die kreatiewe self begin stem dik maak. Dis minus die skynbare sekerheid van ’n 9-tot-5-werk.

Hieroor het ek nou ’n groot stuk vrede, want dit wat ek nou het, sal ek nie wil verruil nie.

Sekerheid, van wat ook al, het ek gou geleer, is vir niemand ’n gegewe nie. Ons moet maar daardie bron van tevredenheid en vervulling self skep.

Ek lig my glas omhoog vir diegene wat dit vind in ons 9-tot-5-realiteit of die mense wat dit 24/7 moet skep!

In albei scenario’s hoop ek ons gees en ingesteldheid sal altyd skeppend en kreatief na ons nuwe werklikheid kyk. En ons die waagmoed aan die dag sal lê om dinge dié keer anders te doen.

Geskoold of minder geskoold – ons almal het dit in ons om ’n betekenisvolle bydrae tot ons samelewing te maak.

Kom ons verrig daai wonders!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article