In net vyf dae is vyf sake van bedrog by die Saldanha-polisiekantoor aangemeld.

“Dis kommerwekkend,” sê AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie.

Die vyf bedrogsake wat tans ondersoek word, is van Maandag 22 Junie tot Vrydag 27 Junie aangemeld.

Kotze sê al hoe meer plaaslike inwoners word slagoffers van hierdie soort bedrog.

Sy het spesifiek verwys na Weslander se berig op 30 Junie, waarin die Porterville-polisie bevestig het Portervillers word toenemend die slagoffers van uitgeslape aanlyn swendelaars. Kotze het gesê ’n skerp toename in hierdie soort misdaad word ook die afgelope tyd in Saldanha ervaar.

In een van die vyf sake wat verlede week in Saldanha aangemeld is, het ’n vrou (45) ’n deposito van R43 000 betaal om ’n voertuig, wat aanlyn geadverteer is, te koop. Daarna kon sy nie weer die sogenaamde verkoper van die voertuig in die hande kry nie en die advertensie is ook van die internet verwyder.

Met betrekking tot nog ’n geval het iemand haarself as ’n verhuringsagent voorgedoen en die slagoffer van Saldanha het haar ID-nommer onwetend aan ’n swendelaar verskaf. Die klaer het later uitgevind haar ID-nommer is gebruik om elders ’n verhuring valslik in haar naam aan te gaan.

Kotze vra plaaslike inwoners om altyd uiters paraat te wees en hul huiswerk goed te doen voordat hulle enige geld aan iemand betaal.

AO KB von Waltsleben, waarnemende ondersteuningshoof van die Porterville-polisie, het verlede week in Weslander raad met die publiek gedeel om hulself teen aanlyn bedrog te beskerm. Kotze het gevra dat ’n paar van hierdie noodsaaklike wenke asseblief weer met lesers gedeel word om ’n groter bewustheid oor hierdie probleem te skep.

Wenke:. Geen erkende organisasie of instelling sal jou versoek om sensitiewe inligting soos jou bankbesonderhede, PIN-nommer of ID-nommer aanlyn te verskaf nie. . Moenie op enige skakels klik wat via e-pos of per SMS aan jou gestuur is nie. Moenie enigsins op hierdie e-posse of SMS’e reageer nie.. Moenie blindelings alles glo wat aan jou gestuur word nie.. Tik altyd self die URL (uniform resource locator) – jou bank se naam – in die webblaaier as jy aanlyn bankdienste gebruik.. Maak 100% seker dat jy wel by jou bank se webtuiste is voordat jy enige persoonlike inligting intik. . Moet onder geen omstandighede jou OTP (eenmalige wagwoord) telefonies aan enigiemand verskaf nie.. Vind eers alles uit oor ’n sogenaamde handelaar wat iets op die internet verkoop voordat jy enige geld aan hulle betaal.. As die winskoop, aanbieding of werk wat geadverteer word amper te goed klink om waar te wees, is die kans vir bedrog groot.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article