Noluvu Ludidi

Met musiek in sy gene keer Tiaan Grundling ná 12 jaar terug na die musiekwêreld met sy eerste solo-vry

stelling en sy nuwe enkelsnit “Drome”.

Dié Yzerfontein-inwoner het tot 12 jaar gelede musiek gemaak weens ‘n passie vir musiek, maar in ‘n later stadium het hy “begin leeg voel”.

“My ouers het altyd gesê die dag wat dit vir my ‘n werk word, moet ek dit

eerder los. En dit het so begin voel. Ek het moeg geword – moeg om te hoor ‘n optrede is op pad, moeg om te skryf en ek was net glad nie meer lus vir die hele storie nie.”

Grundling het dus besluit om tyd te neem om homself weer te vind.

Met kleiner optredes, rondspeel met nuwe musiekstyle en meer het hy sy doel gevind en beskou nie die geleentheid as een om bekend te wees nie, of om oral op te tree nie, maar sê wel wanneer dit gebeur, sal dit fantasies wees.

“My groot doel is om net ‘n positiewe boodskap deur my musiek oor te dra. Daar is nog mooi daar buite. En ons moet dit in onsself vind. Wanneer ons dit doen, sal die res soveel makliker gebeur en reg val.”

Met sy enkelsnit “Drome”, sê

Grundling, ondersoek dié kragtige danslied die onsigbare goue draad wat ons verbind met geliefdes anderkant hierdie lewe. “Drome is ‘n diepgevoelige herinnering dat daar geen werklike skeiding is nie — ons bande bly sterk in gees, hart en siel. Die lied herverbeel die dood op ‘n sagte wyse – nie as ‘n einde nie, maar as ‘n pragtige oorgang; ‘n

terugkeer na die natuur en die heelal self.”

Grundling vertel dat “Drome” ‘n baie spontane liedjie is wat maklik en vinnig gebeur het. “Ek wil eerder sê ‘Drome’ het na my toe gekom as om te sê dit was ‘n proses. Ek het die middag gaan sit en met programmering vir ‘n lied begin.

“Alles het net so eenvoudig gebeur. Ek het André Huysamen gevra om die lirieke te skryf, want ek het ‘n idee, maar nie geweet hoe om verder vorentoe te beweeg nie. Skrywersblok het ingetree. André het die lirieke die volgende oggend vir my gegee en dit was presies wat ek wou gehad het.”

• ”Drome” dui ‘n kragtige nuwe hoofstuk in Grundling se solo-reis aan, en is

reeds op alle digitale platforms

beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article