Die plaaslike ontwikkelaar Klaus Göbel se langtermynvisie van ‘n toonaangewende residensiële ontwikkeling in Darling het voorverlede Donderdag 13 Maart ‘n mylpaal gevier saam met vennote, gesins- en familielede en gaste met die bekendstelling van ‘n nuwe sonkragaanleg van sowat 1,2 MW.
Die Darling Green-landgoed, in vennootskap met Sustainable Power Solutions (SPS), is vasbeslote om die manier waarop gemeenskappe energie benut, radikaal te vernuwe, wat die weg sal baan vir ‘n meer omgewingsvriendelike en volhoubare leefstyl. Die inisiatief van sonkragoplossings vir die Darling Green-landgoed was integraal tot die projek se suksesvolle voortbestaan, het Göbel by die bekendstelling van die aanleg by die Darling-sportklub gesê.
Die geleentheid, aangebied deur SPS en Darling Green Utility (Edms.) Beperk, het die belangrike rol van hernubare energie in volhoubare kragvoorsiening beklemtoon.
Darling Green Utility het ‘n krag-aankope-ooreenkoms (PPA) met die Swartland-munisipaliteit vir die verskaf- fing van 1,2 MW se sonkrag aan Darling gesluit. Hierdie ooreenkoms beklemtoon die landgoed se toewyding om nie net sy eie energieverbruik te bevredig nie, maar ook tot die breër gemeenskap se volhoubare ontwikkeling by te dra.
Die 1 MW-PV-plaas, wat ook deur SPS gebou en gefinansier is, sal vir die volgende drie jaar, danksy die ooreenkoms, die oorblywende sonkrag gedurende die konstruksie van die landgoed aan die munisipaliteit verkoop, verduidelik Francois van Themaat, die stigter van SPS.
Gerugsteen deur die Verenigde Koningkryk se British International Investments Plc, SPS se grootse aandeelhouer deur Gridworks, sal die projek die plaaslike ekonomie van Darling ‘n geweldige hupstoot gee, maar ook hul toewyding tot ‘n volhoubare toekoms verseker.
Hierdie vooruitdenkende benadering verseker dat Darling Green-landgoed sonder beurtkrag bly, en inwoners voorsien van betroubare en onderbrekingsvrye krag.
Van Themaat het die proses om by die eindresultaat te kom met die bou van ‘n legkaart vergelyk.
“Göbel het SPS genader om te kyk na ‘n hernubare energie-oplossing vir die ontwikkeling. Die uitdaging aan die begin was die feit dat daar nog nie enige energieverbruik in die landgoed is nie, wat dit moei-lik gemaak het. Mense moet nog die huise bou en daar kom woon. Toe kon ons ‘n driejaar-krag-aankope-ooreenkoms (PPA) met die Swartland-munisipaliteit sluit,” verduidelik hy.
Namate bouwerk op die landgoed vorder, sal die energieverbruik stelselmatig na die ontwikkeling oorskuif.
Die aanleg bestaan uit altesaam 2 000 sonpanele en volg die son van oos na wes, wat die produksie van die stelsel bevorder. Die jaarlikse uitset is 2 500 MW uur per jaar, sê Van Themaat.
“Daar is agt omsetters wat die krag voortaan aan die ontwikkeling sal verskaf, terwyl die oorblywende sonkrag na die munisipaliteit sal gaan.”
Volgens hom is een van die belangrikste aspekte van die projek die besparing van 2 300 ton koolstofdioksied wat nie meer afgeskei sal word nie.
Harold Cleophas, die burgemeester van die Swartland, het die geleentheid as ‘n besonderse voorreg beskou. Hy het gaste by die inhuldigingseremonie van die sonkragaanleg daaraan herinner dat dit nie gaan help om vir iemand te wag om die planeet te red nie.
“Dit is ons verantwoordelikheid om ‘n veilige omgewing met hernubare energie vir die toekoms te verseker. Ons kan dit nie op ons eie regkry nie, daarom moet ons saamwerk. Dié projek is ‘n voorbeeld van hoe die regering en private sektor kan saamwerk om volhoubare energiebronne daar te stel, wat op sy beurt ekonomiese groei en werkskepping meebring. Die begunstigdes van die projek sal nie net die Darling Green-landgoed wees nie,” sê hy.
“Ons het baie kosbare lesse gedurende die projek geleer, wat sal help met die ontwikkeling van toekomstige sonkragprojekte.”
Cleophas sê verder die aanleg is ‘n simbool van vordering vir volhoubaarheid en die streek se toegewydheid tot ‘n skoner toekoms. “Vandag huldig ons nie net ‘n nuwe gerief nie. Darling Green Utility neem ‘n dapper tree vorentoe na energiedoeltreffendheid en -onafhanklikheid en verantwoordelikheid vir die omgewing en ekonomiese groei.”
Göbel sê die ontwikkeling is danksy suksesvolle vennootskappe moontlik gemaak. Hy het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die Swartland-munisipaliteit as sy vennoot in sy droom van 20 jaar gelede met die aankoop van die 500 ha stuk grond. Van Themaat was dit eens dat ‘n belegging in hierdie streek, danksy ‘n uitstekende munisipaliteit, ‘n maklike esluit was. “Dit is ‘n goeie vennootskap en ons sien uit na die volgende 20 jaar.”
Die ontwikkeling het tot dusver altesaam 118 plaaslike mense en plaaslike diensverskaffers van werk voorsien, terwyl die voorspelling is dat die ontwikkeling van die Village Post- en die Oude Post-aftreeoord wat sal volg, aan ‘n verdere 224 mense werk sal verskaf.
Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder, het klem gelê op die belangrikheid van volhoubare vennootskappe, die doeltreffende belegging in personeel, prestasiebestuur, stabiliteit en leierskap op politieke en administratiewe vlak. Hy het sy dankbaarheid teenoor sy personeel en hul kundigheid, raadslede, asook die leierskap van die uitvoerende burgemeester uitgespreek.





