Ná 36 jaar in die onderwys het Elvin Vraagom sy laaste dag op Woensdag 30 Junie voltooi.
Vraagom het sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Diazville begin in 1985 tot en met 1989. Daarna het Vraagom by die Hoërskool Weston in Louwville aangesluit waar hy die pos van departementshoof beklee het.
Dinge het net verbeter van daar af en Vraagom het in 2010 tot adjunkhoof gevorder. Hy het daarna die eer ontvang om hoof van die Hoërskool Weston te word.
Nathan Josephs, wat tans waarnemende hoof is, sê daar het in die afgelope vier jaar so baie dinge by die Hoërskool Weston onder die leiding en leierskap van Vraagom gebeur.
“Die verbetering in uitslae en die algehele beeld van die skool, die Weston-handelsmerk om ’n paar te noem. Dit is ’n feit dat die matriekslaagsyfer van gemiddeld 78% in 2017 tot 85% in 2019 gestyg het en dat die skool ’n gemiddelde van 78% wat slaag tydens die pandemie in 2020 kon handhaaf.”
Josephs voeg by tesame met die skoolbestuurspan was daar baie storms om te trotseer, “maar wees verseker dat ons die waters kon aandurf omdat ons in die regte boot, genaamd Weston is en die regte skipper gehad het”.
Stacey Langley, ’n gr. 11-leerder by Hoërskool Weston, vertel Vraagom was ’n voorbeeld vir almal by die skool.
“Hy was die soort skoolhoof wat elke leerder by die naam geken het asook wie hul familielede is.
“Hy het die potensiaal in elke liewe leerder raakgesien en het almal aangemoedig om hul beste te gee,” vertel Langley.
Sy voeg by dat Vraagom elke skoolgeleentheid bygewoon het, en selfs sy naweke opgeoffer het om sy ondersteuning te wys.
“Ek wil dankie sê aan mnr. Vraagom dat hy so ’n wonderlike skoolhoof was en ’n inspirasie vir my, ander leerders, onderwysers en werkers by Weston.”
Josephs voeg by dat dit tyd is vir ’n nuwe fase in Vraagom se lewe en die skool gun hom die welverdiende rus. “Mag goedheid en guns u volg. Ons salueer u.”





