“Om ’n onderwyser te wees, is ’n roeping,” sê die onderwyser Tam-Lynn Achilles.
Dié inwoner van Steenbergs Cove is tans ’n graad 2- Engelsonderwyser by H.P. Williams Laerskool. Sy sê sy is gelukkig om ’n verskil in leerders se lewe te kan maak. Achilles bied Engels (huistaal), Afrikaans (eerste addisionele taal), wiskunde en lewensoriëntering aan. Haar ander verantwoordelikhede sluit koördineerder by die skool se veiligheid- en dissipline-komitee in.
Achilles sê haar seuntjie was haar grootste inspirasie wat haar laat besluit het om ’n onderwyser te word.
“Dit is ook my liefde vir kinders; ek wou ’n verskil in kinders se lewe maak. Dit gee my die geleentheid om kinders te help ontwikkel en ’n daadwerklike invloed op hulle te hê sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik,” sê Achilles. Haar onderwys-reis het by Unisa begin toe sy as afstandstudent aanvaar is.
“Om aanlyn deur Unisa te studeer, was glad nie so maklik nie, al lyk dit vir baie so. Dit verg harde werk en nogmaals harde werk!”
Achilles voeg by dat sy baie selfdissipline moes toepas, want sy het hoë verwagtinge vir haarself gehad om iets in haar lewe te bereik.
“Ek het weer eens besef ’n mens kan bo jou omstandighede uitstyg. Ek dank ons Hemelse Vader vir alles en elke liewe mens wat my bygestaan het, opofferings gemaak en my ondersteun het om my droom ’n werklikheid te maak.”
Achilles beklemtoon ’n daaglikse hoogtepunt is om te sien hoe mooi haar leerders presteer.
“Ons as onderwysers moenie jong mense net as ’n leë bottel sien wat gevul moet word nie, maar as kerse wat aangesteek moet word.”





