‘n Groep
gewapende rowers het Donderdagaand 9 Desember op die plaas Duinkraal, Saldanha
toegeslaan.
Volgens
kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, het die voorval om
ongeveer 22:30 plaasgevind.
Die eienaar
(51) het blykbaar sy huis se alarmstelsel afgeskakel, die huis ingegaan
en weer die alarmstelsel geaktiveer. Sy vrou was reeds in die huis.
Oomblikke
daarna het die alarmstelsel ‘n beweging buite die huis geregistreer, waarna die
eienaar ondersoek gaan instel het. Hy het twee gewapende mans in die gras
gewaar. Hulle het onder andere ‘n koevoet by hulle gehad. Die eienaar het
daarin geslaag om die koevoet by die verdagtes af te neem, maar ‘n derde
verdagte het skielik te voorskyn gekom waarop die eienaar in sy huis ingegaan
en die glasdeur agter hom gesluit het. Die rowers het egter die glasdeur met
die koevoet stukkend geslaan om toegang tot die huis te kry en toe die eienaar
met die koevoet oor die kop geslaan. Die eienaar kon egter daarin slaag om weg
te kom deur homself in die badkamer te gaan toesluit. Die verdagtes het
probeer om nog deure in die huis oop te breek, toe die man se skoonpa, wat in
‘n ander vleuel van die huis bly, ‘n waarskuwingskoot afgevuur het. Die
verdagtes het probeer om die skoonpa te oorrompel, waarna nog twee skote
afgevuur is. Die rowers het daarna op vlug geslaan met ‘n selfoon en ‘n
horlosie. Enigeen met inligting wat die ondersoek sal bespoedig word
gevra om Sersant Christopher Kleinsmith by 022 714 8342 of
079 894 0082 te bel.

