Die Wes-Kaap is amptelik oor die vierde piek van die pandemie.

Die departement van gesondheid het bevestig hoewel gevalle van Covid-19 tydens die onlangse piek hoër was as die in die tweede (Januarie 2020) en derde (Augustus 2021) piek, was die aantal hospitaalgevalle minder as voorheen.

’n Afname van 64% hospitaalopnames is teenoor die laaste piek aangeteken.

Sterftes weens Covid-komplikasies was ook laag.

“Ons ontslaan [Covid-19-] pasiënte vinniger as wat nuwe pasiënte in die hospitaal opgeneem word – ’n bewys dat hospitaalopnames afneem,” het dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, gesê.

Hoewel sterftes weens die koronavirus steeds voorkom, was die gevalle minimaal onder diegene wat ten volle ingeënt was.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het Donderdag (6 Januarie) tydens die weeklikse Covid-digitale perskonferensie gesê die jongste piek en die departement van gesondheid se hantering daarvan is bewys die ramptoestand moet beëindig word. Winde meen om die ramptoestand op te hef, sal help om die ekonomie ’n hupstoot te gee.

Intussen is die land steeds in die aangepaste ramptoestand wat steeds die dra van maskers, veilige sosiale afstand asook beperkings op byeenkomste vereis.

Dr. Nomafrench Mbombo, provinsiale minister van gesondheid, het inwoners gemaan om hulle te laat inent en versterkingsinentings (boosters) te kry.

Volgens die departement neem Covid-gevalle oor die provinsie heen af, met die Weskus wat ’n 20%-afname (tussen 25 Desember en 1 Januarie) ondervind het.

Teen verlede Donderdag is 4 672 versterkingsinentings van die Johnson & Johnson-entstof in die provinsie toegedien, en 1 825 dosisse Pfizer.

Weskussers wat versterkingsinentings wil kry, kan dit twee maande ná hul eerste J&J-dosis doen. Mense wat aanvanklik die Pfizer-entstof ontvang het, moet wag tot ses maande ná hul inenting. Versterkingsinentings is slegs vir mense 18 jaar en ouer beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article