Die afgelope vakansie het ons opnuut bewus gemaak van die waarheid in die ou spreekwoord “oos, wes, tuis bes”.
Aan die begin van die vakansie het ’n mens natuurlik allerhande romantiese idees oor wat jy alles gaan doen en waarheen jy sal gaan.
So besluit ons toe, weens die verstikkende petrolprys, om maar eerder die swartperd as ’n fô baai fô op te saal. Ons gaan probeer wys ons is van daai ystergatte wat lank in die saal kan sit sonder om te hik of te snik. En ons gaan iewers in die Kaapse berge glanskamp – glamping, in Engels.
Dis nou wanneer jy onder die sterre kampeer en in ’n tent slaap, hoewel jy al die heerlikhede van jou huis byderhand het – ’n warmwaterstort, lugverkoeling, spierwit katoenbeddegoed, Wi-Fi en wat nog.
Maar laat ek eers verduidelik: In motorfietskringe is daar ’n beweging bekend as die Ystergatte. Dis nou die ouens wat bewys het hulle kan binne 24 uur ’n tamaai afstand op ’n motorfiets aflê. Hulle hou net stil vir petrol.
Nou kyk, ons het so 300 km of wat na ons glanskampterrein gevorder, maar toe beginne dit voel ’n mens weet nie meer hóé om te sit nie. Kisboude . . . En teen 120 km/h moet jy jou sit ken, veral as die wind waai. Maak beurte, seg ek later – 10 minute aan ’n kant. Begin links en sit op jou linkerbuffer; dan weer die regterkant. En as dit nie meer help nie, probeer ’n bietjie staan.
Makliker gesê as gedaan, want die wind wil jou agteroor knak.
Dan maar elke 50 km of so stilhou. Maar toe wou ons bene opsluit nie reguit om af te klim en regop te staan nie. Wat ’n pynlike affêre! Weg is die glans, want nou raak dit net seerder namate die wit strepe op die teer verbyglip. Dit raak so erg dat ’n mens begin wens jy kon eerder by die huis gewees het waar jy in die hitte die gras kan sny en onkruid kan uittrek met vlieë wat om jou kop maal en sweet wat in jou oë brand, om nie te praat van ’n yskoue skuimkop nie! Wat het ons besiel om Ystergatte te probeer wees?
“My skat,” seg ek toe ons by die kampkantoor kom, “sê vir die man my bene is te seer om tot daar te loop en dan betaal jy ook sommer vir ons verblyf en spyse.”
Ons haal darem die tentjie.
Dit lyk gewis nie soos op die advertensie wat ons gelok het nie. Dis nie veel meer as twee bedjies onder ’n ou seil nie. Daar is warmwaterstorte, ja, maar dis myle van die tent af. En jy moet self die donkie stook.
Twee stukke sifdraad in die seil se wande is die lugverkoeling en die beddegoed het al baie lywe voor ons gesien. Die Wi-Fi werk net as die son helder genoeg skyn om die batterye te laai. En die “eco experience” kos “net” R1 500 per nag.
Nee wat, dis veel beter by die huis!




