Honderde mense het Vrydagaand die hawediens in Laaiplek bygewoon.


’n Suksesvolle hawediens wat deur ongeveer 300 mense bygewoon is, is weer by die Laaiplek-hawe gehou nadat dit amper weer nie vanjaar kon plaasvind nie.

Die vissersgemeenskap van Velddrif kom al vir dekades elke jaar in Januarie by die hawe bymekaar vir ’n spesiale kerkdiens voordat die vissermanne vir die nuwe visseisoen see toe gaan.

Die gewilde hawediens kon in 2021 weens Covid-19-regulasies nie plaasvind nie.

Natasha Tolken van Velddrif het daarna uitgesien om vanjaar weer die hawediens by te woon, maar toe sy begin rondbel om te hoor wanneer dit gaan plaasvind, was sy teleurgesteld om te hoor dat dit weer nie vanjaar sal plaasvind nie.

Sy het die hawe-owerheid se toestemming gekry en die hele vissersgemeenskap het saamgespan om ’n hawediens binne slegs vier dae te reël.

Honderde lede van die gemeenskap het hul stoele Vrydagaand 14 Januarie saamgebring om die vinnig gereelde hawediens by te woon.

Die diens is deur pastoor Christopher Horn gelei en volgens Tolken is talle boodskappe ná die diens ontvang van mense wat diep deur die boodskap geraak is.

“Ek glo die Here het my gebruik om die hawediens weer van die grond af te kry. As God vir jou is, wie kan teen jou wees?” het sy aan Weslander gesê.

Die NG gemeente Velddrif het Sondagoggend 16 Januarie ook ’n kerkdiens vir die plaaslike vissersgemeenskap in sy kerkgebou gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article