Weslander het onlangs verskeie navrae ontvang van inwoners – van Diazville tot St. Helenabaai – wat kla oor straatligte wat bedags brand. Weslander het ’n navraag aan die Saldanhabaai-munisipaliteit gerig en die volgende antwoord ontvang. – Red.

Saldanhabaai-munisipaliteit: Daar is ’n elektriese beheerstelsel wat die ligte in die aand moet aanskakel.

Een deel daarvan is die “fotosel” wat sodanig geïnstalleer moet word sodat dit die lig van dag en nag kan monitor en onderskei.

Hierdie soort sensors moet dus buite wees (geposisioneer word).

Daar is ’n groot risiko aan verbonde – die toerusting word grootskaals blootgestel aan vandalisme. As gevolg van beskadigde sensors, is dit een van die primêre redes waarom ligte in sommige gevalle deurlopend brand.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit ervaar tans ook ’n ander uitdaging, hoofsaaklik gepaardgaande met hoëmasligte, waar die totale beheermeganisme so gevandaliseer word dat die elektriese toerusting onherstelbaar is.

In van hierdie gevalle word die ligte dus direk gekoppel, net om lig te kan voorsien, en dus sal dit dag en nag brand. Noodgedwonge moes alternatiewe maatreëls daargestel word om elektriese toerusting te beskerm, wat herstelwerk of vervangingswerk verleng en kompliseer.

In omstandighede waar dit slegs die “fotosel” is wat beskadig is, kan die munisipaliteit herstelwerk behartig.

In die geval waar die hele beheerstelsel verwyder moet word en hierdie beheerstelsel vir veiligheid heeltemal toegesweis moet word om die risiko van vandalisme te verminder, sal die ligte wel deurlopend brand.

Ligte wat deurlopend brand, kan by die munisipale 24-uur-inbelsentrum aangemeld word.

Die telefoonnommer om klagtes aan te meld, is 022 701 7061.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article