Ouma Hendrika de Wee (76) van Saldanha word steeds vermis.

Weslander het verlede week foutiewelik berig dat De Wee sedert 18 Januarie vanjaar weg is, maar sy word inderdaad reeds sedert 18 Desember 2021 vermis.

Volgens Magrietha Petro, De Wee se versorger, het mense sedert die verskyning van verlede week se berig aan haar vertel dat die bejaarde steeds in Saldanha is en dat hulle haar saam met ’n man gesien het.

Petro sê De Wee se verstand is meesal nog goed, maar dat sy al hoe meer deurmekaar en vergeetagtig raak.

Die bejaarde is glo lief vir manlike geselskap en volgens Petro moes sy al ’n paar mans by De Wee se huis “wegjaag”, aangesien sy nie altyd weet of hulle goeie bedoelings het nie.

Einde verlede jaar het Petro die bal aan die rol gekry om vir die bejaarde plek in ’n ouetehuis te kry, maar volgens die versorger het De Wee volstrek geweier om uit haar huis te trek.

Volgens Petro is De Wee lief vir haar vryheid en sy “hou nie daarvan om voorgesê te word” nie.

Haar versorger vermoed sy het moontlik weggeloop om die ouetehuis te ontduik, maar daar word gevrees vir haar veiligheid.

Die polisie volg wenke uit die gemeenskap op.

Enigeen met inligting word versoek om sers. Siyabonga Bara by 022 714 8333 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article