Ek het ’n paar jaar gelede in Stellenbosch gaan studeer. Ek was baie opgewonde om te kon gaan. My familie was saam met my bly vir die geleentheid wat ek gekry het. Ek het my werk by die munisipaliteit bedank en is vol drome en verwagting weg Kaap toe. My toekoms was blink voor my. Die Here het my immers geroep. Ek was gehoorsaam, so, nou lê die groen weivelde mos voor my . . . immers, só het ek gedink.
Die eerste paar dae op varsity was goed, maar toe word dit later nie meer so goed nie. Ek het gehoop ek sou die probleem met my hoofpyne kon oorkom. Ek is mos immers geroep; ons het gebid daarvoor. Ja, ek het geglo die Here sou my aanraak en gesond maak. Dis mos vir Hom wat ek wou gaan werk.
Dit het toe nie so gebeur soos ek gedink en gehoop het nie. My hoofpyne het erger geword. Ek het boonop depressie ontwikkel. Dinge het moeiliker geword in plaas van beter. Die ergste was – dit het gevoel of God my in die steek gelaat het. Die Here het my ge-drop, of só het ek gevoel. Ek moes my studies ná vier maande staak. Ek was so teleurgesteld – nou moes ek weer teruggaan huis toe; ek moes my droom laat vaar. Ek het dan geglo die Here sou deurkom vir my.
Daardie dag wat ek my studies gaan staak het . . . die pyn in my was ondraaglik. Ek het daardie dag mall toe gestap met trane wat ek nie kon keer nie. Dit was leeg binne my. Daardie dag in die boekwinkel het ek ’n boek van Nina Smit gevat en net oopgemaak, toe staan dit daar: Deut. 32:11: “Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie.”
Toe ruk hierdie woorde my. Sy skryf in haar oordenking dit is goed dat jy die growwe kante van die lewe ervaar; dit is goed dat jou rustige bestaan ’n bietjie deurmekaar gemaak word; dat jou huwelik ’n bietjie opdraande het. Dis goed dat jy nie elke keer kry wat jy wil hê nie, want dan leer jy om opnuut op die Here te vertrou. Soos die arend sy kleintjies se nes uitmekaar maak en hulle van die krans afskop – net voordat hulle verpletter op die grond val – duik hy onder hulle in en vang hulle op sy vlerke.
Net so vang God ons voordat ons op die grond doodval. Daar kom praat die Here met my direk; ’n boodskap uit die hemel. Ek is wel huis toe, maar God het my gevang. Drie jaar daarna is ek terug varsity toe.
Ons val en deur God se genade staan ons weer op. Ons moet weer probeer. Ons moet nie opgee en gaan lê nie, want God gee nooit op met ons nie. Totdat ons leer om te vlieg soos die klein arende, moet ons altyd probeer. Al val ons hoeveel keer, moet ons net weer en weer opstaan. Ons is immers tot alles in staat deur Jesus onse Heer.




