’n Fokus op infrastruktuur, veiligheid en werkskepping is op die kaarte vir die provinsie en goed in lyn met plaaslike munisipaliteite se planne.
Volgens André Truter, burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit sowel as burgemeester raadsheer Ray van Rooy van Bergrivier-munisipaliteit, is hulle opgewonde oor Premier Alan Winde se planne.
Winde en lede van die Wes-Kaapse regering was Dinsdag in die Velddrif-stadsaal vir die provinsiale staatsrede.
“Die provinsie se strategie om nouer interaksie tussen provinsiale en munisipale regering te hê is verblydend. Vir Velddrif om gasheer vir die provinsiale rede te wees was wonderlik, veral omdat die platteland baie min die geleentheid kry om op hierdie vlak met die provinsie saam te werk,” het Van Rooy verduidelik.
’n Nuwe manier van doen
Winde meen die fokus ná die afgelope twee jaar se pandemie is om ’n nuwe manier van doen te kry.
“Baie van die mense hunker om terug te gaan na hoe ons dinge gedoen het voor die staat van inperking, maar dit sal nie werk nie. Ons moet soos die Weskus se eie vissers wees wat daaglik opstaan, uitgaan en voort vaar,” het Winde gesê.
Die Premier het onder meer aangekondig ’n nuwe departement van infrastruktuur sal geskep word. Hierdie departement sal die huidige departemente van menslike nedersetting en vervoer en openbare werke saamsmelt. Vervoer, wat alles van taxi’s tot treine sal insluit, asook die bou van paaie en brûe sal onder hierdie departement wees.
“Die Weskus vra altyd vir nuwe paaie,” het Winde geterg. Hy het die verbetering van die R27 en die bou van die aansluitingsbrug uitgewys as infrastruktuurprojekte wat juis voltooi is om die behoeftes van beleggings, soos met die Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone (SBNOS), aan te pak.
Winde meen om goeie infrastruktuur te bou, is ’n sleutel om beleggers te lok, wat weer tot broodnodige werksgeleenthede sal lei.
Werkloosheid: die tweede pandemie
Volgens Winde sal die provinsie se bevolking oor die volgende agt jaar met 1,4 miljoen mense groei.
Intussen is werkloosheid op sy hoogste vlak. Ten spyte daarvan dat die provinsie die laagste werkloosheidsyfer in die land het, het 132 000 mense hul werk tussen die eerste kwartaal van 2020 en die derde kwartaal van 2021 verloor, het hy gesê.
Winde meen die oplossings vir werkloosheid sal vennootskappe tussen die regering en die private sektor verg. Ontwikkelings soos die Atlantis- en Saldanhabaai-ontwikkelings is ook uitgelig. Volgens hom was dit goed om die voltooide geboue binne die SBNOS te sien, met 2 000 werksgeleenthede wat geskep is.
Tot op hede is meer as R790 miljoen se belegging ook vir die Atlantis- spesiale ontwikkelingsone verseker.
Infrastruktuur wat elektrisiteitsopwekking behels, soos die munisipale energie-veerkragtigheidsprojek, wat Saldanhabaai- en Swartland-munisipaliteite insluit, sal ook aandag geniet. Deur hierdie projek hoop die munisipaliteite om minder afhanklik van Eskom te wees.
Veiligheid ’n prioriteit
Winde sê die regering se hantering van Covid-19 het vele lesse opgelewer. Een hiervan was ’n data-aangedrewe reaksie wat byvoorbeeld die uitwys van brandpunte behels het. Kontakopsporing van infeksies was ’n ander en Winde het verduidelik data-aangedrewe reaksie sal nou vir gemeenskapsveiligheid gebruik word. Die departement van gemeenskapsveiligheid sal voortaan as die departement van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid bekend staan.
Winde sê aangesien die provinsiale regering nie seggenskap oor die Suid-Afrikaanse polisiediens het nie, sal die provinsie hul toesig oor polisiekantore uitbrei. Die veldtog teen geslagsgebaseerde geweld sal ook deur programme binne verskeie departemente gedryf word.
Die provinsiale wetgewers se besoek aan die Weskus is die derde opening wat buite Kaapstad gehou is. Winde het sy eerste openingsrede van die provinsiale regering in Mitchells Plain gehou. ’n Hibriede sessie is Dinsdag gehou met lede sowel as gaste wat in lewende lywe en via internet die geleentheid bygewoon het. Die debat oor die rede het Woensdag plaasgevind.



