Die Wes-Kaapse departement van gesondheid doen ’n beroep op inwoners van die Weskus-distrik om hul steeds teen Covid-19 te laat inent.

Inwoners wat nog geen inentings teen Covid-19 ontvang het nie, kan steeds die inentingspersele besoek; tweede dosis inentings vir die Pfizer-entstof is ook steeds beskikbaar.

Dit is nie ’n vereiste om eers te registreer of vir ’n sms te wag voor jy vir jou eerste inenting of tweede dosis van die Pfizer-inenting gaan nie.

Versterkingsinentings of “boosters” is ook tans beskikbaar vir alle mense wat reeds ingeënt is.

Diegene wat die J&J-inenting ontvang het, kan twee maande nadat hulle hul eerste J&J-inenting gekry het ’n versterkingsinenting ontvang.

Diegene wat die Pfizer-inentings gekry het, kan ses maande ná hul tweede dosis ’n versterkingsinenting ontvang.

Dit geld ook vir mense met siektes of toestande wat lae immuniteitsvlakke veroorsaak (immuno compromised). Hierdie mense hoef nie ’n brief of bewys van hul mediese praktisyn te toon om ’n versterkingsinenting te ontvang nie.

Let ook daarop dat jy nie hoef te wag vir ’n sms om vir jou versterkingsinenting te gaan nie, maar slegs binne die tydperke soos hier bo genoem na jou naaste inentingsperseel hoef te gaan.

“Die onderskeie sub-distrikte of plaaslike munisipale gebiede in die Weskus-distrik het hul eie benadering tot inentingspersele en -datums om die kapasiteit van personeel en beskikbare ruimte in fasiliteite te akkommodeer,” aldus die departement.

Datums vir inentingsopsies per sub-distrik:

Bergrivier

Inwoners van Piketberg kan tans elke weeksdag gaan vir inentings by Piketberg-kliniek, terwyl Porterville-kliniek van Maandae tot Woensdae inentings toedien.

Inwoners van Velddrif kan Donderdae en Vrydae inentings kry by die Velddrif-kliniek.

Ander dorpe en gemeenskappe in die Bergrivier-sub-distrik word met uitreik-aksies bedien.

Die rooster vir die res van Februarie is:

Velddrif-kliniek: 17 Februarie

Piketberg-biblioteek: 17 en 18 Februarie

Eendekuil-satellietkliniek: 18 Februarie

Inwoners van plase in Bergrivier-sub-distrik word nie oorgesien nie en plase in die sub-distrik gaan deur EMS se Vaxi Taxi-diens besoek word vir versterkingsinentings.

Inwoners van Aurora, Porterville, Goedverwacht en Redelinghuys sal met hul naaste kliniek kontak moet maak.

Dié klinieke het reeds tussen Maandag en Woensdag vandeesweek pasiënte vir hul entstof akkommodeer.

Cederberg

In die Cederberg word daar ook meesal van gesondheidsfasiliteite gebruik gemaak vir inentingspersele, behalwe vir Clanwilliam waar die Kathy Johnson Thusong-sentrum in gebruik is terwyl instandhouding en verbeterings aan Clanwilliam-hospitaal op die hospitaalterrein ruimte beperk. Die weeklikse rooster is as volg:

Citrusdal-hospitaal: Maandae tot Vrydae

Elandsbaai-kliniek: Maandae

Graafwater-kliniek: Maandae, Dinsdae

Kathy Johnson Thusong-sentrum (Clanwilliam): Maandae tot Vrydae

Lambertsbaai-kliniek: Maandae tot Donderdae

Wupperthal-kliniek: Maandae

Uitreike na plase vir inentings (eerste, tweede dosis of versterkingsinentings) word ook met plaasgemeenskappe gereël om mense op plase te akkommodeer.

Verder word ouetehuise en besighede ook besoek op uitreik-geleenthede.

Saldanhabaai

Saldanhabaai sub-distrik gaan in Februarie voort om gemeenskapsale as inentingspersele te gebruik.

Die rooster vir die res van Februarie:

Laingville-kerk: 17 Februarie

Diazville-gemeenskapsaal: 22 – 23 Februarie

Saldanha Multipurpose Hall: 24 Februarie.

Datums word op Weslander se Facebookblad verskaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article