Die een uitstaande kenmerk van Suid-Afrika se ekonomie soos dit tans daar uitsien, is die geweldige hoë vlak van werkloosheid. Mense aan die Weskus het eerstehands beleef hoe enorm die impak van werkloosheid kan wees toe ArcelorMittal sowat twee jaar gelede sy deure in Saldanha gesluit het.
Werksgeleenthede is kosbaar.
Werkgeleenthede moet as broos beskou word, nie net deur werkgewers nie, maar ook deur werknemers. Entrepreneurs / werkgewers weet watter harde werk dit verg om ’n besigheid te skep en sodanig uit te bou dat jy ekstra hande nodig het om al die werk gedoen te kry.
Daardie entrepreneur neem ’n idee en investeer sy lewe daarin om deur eie inisiatief ekonomiese aktiwiteit te skep waar daar niks was nie. Eers wanneer daardie niks genoegsaam gegroei het, kan werkgeleenthede geskep word.
Nou die dag kyk ek op TV na ’n konsert van André Rieu waar duisende mense op ’n plein dit geniet. Met my entrepreneursingesteldheid begin ek dadelik dink aan hoeveel ekonomiese aktiwiteit een so ’n konsert skep.
Dink aan al die sangers en musikante (sowat 60 mense) en daarby al die mense wat, in hierdie geval, die dekor na Boedapest in Hongarye moes neem en daar moes opstel vir die konsert. Dink aan al die hotelle en gastehuise wat werkgeleenthede kon bied as gevolg van die toestroming van nagenoeg tienduisend mense van oor die hele wêreld heen. Een man se inisiatief het duisende werkgeleenthede tot gevolg.
Werkgeleenthede is kosbaar.
Aan die ander kant is dit ook maklik om die gans wat die goue eiers lê, nek om te draai. Dink aan die verlies van ekonomiese aktiwiteit noudat die Bloutrein se reise vir eers onbepaald opgeskort is. Mense kom van oorsee vir vakansie en bestee hul geld op luukses soos die Bloutrein, en skielik word die bedryf van die trein onbepaald gestaak. Dit gaan oor meer as net die verlies aan inkomste en werkgeleenthede; dink aan daardie toeris wat maande vooruit beplan het om hierheen te kom met een van sy / haar drome om met die Bloutrein te toer. Nou ’n week voor die tyd hoor hulle dit is gekanselleer. Wat sê daardie toeris vir familie en vriende terug op eie bodem?
Werkgeleenthede is kosbaar.
Ek stap by ’n winkel in om klere te koop en nie een van die verkoopspersoneel stel belang om my te help nie. Hul gesels met mekaar is vir hulle belangriker as ek wat my geld (hul potensiële salaris) daar wil kom bestee. Om wakker te skrik as ek omdraai en uitloop, is te laat; daardie winkel gaan met duur advertensies my nie weer teruglok na hul winkel toe nie.
Werkgeleenthede is kosbaar.
Sou jy dalk nie gelukkig wees waar jy werk nie, onthou as werknemer het jy die vryheid om te bedank en jou eie werk te gaan skep. Indien jy reken die risiko is te groot, wees dankbaar vir die werkgeleentheid wat iemand anders vir jou geskep het en werk so hard jy kan om daardie werkgeleentheid te beskerm.
Werkgeleenthede is kosbaar.
Maar, om jou eie besigheid te begin en vir jouself te werk, is nie onmoontlik nie. Ek lees onlangs van ’n man, Thando Makhubu (30) van Soweto, wat in 2020 vir twee maande sy R350 per maand-toelae gespaar en dit gebruik het om op klein skaal ’n roomys-onderneming van die grond af te kry. Hy werk van sy huis af en sy besigheid, Soweto Creamery, het nou al so gegroei dat hy reeds vier mense in diens het en pres. Cyril Ramaphosa het selfs van hom melding gemaak in sy Sona-toespraak. Ek moet sê sy beste verkoper, Chocolate Overload, klink baie lekker.
Werkgeleenthede is kosbaar. As jy kan, skep jou eie.
David Malherbe is ’n loopbaan- en besigheidkonsultant; kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com.





