Saldanhabaai-poskantoor is tans gesluit tot verdere kennisgewing.Foto: Noluvu Ludidi


Die veiligheid van die Saldanhabaai-poskantoor is ’n bekommernis onder inwoners.

Ná die vele rooftogte en gyselaarsituasies die afgelope jaar is inwoners bekommerd oor hul veiligheid en die toekoms van die poskantoor.

Na aanleiding van die rooftog Vrydag 4 Februarie is bevestig dat die poskantoor tot verdere kennisgewing gesluit is. ’n Inwoner van Saldanha, wat nie by name genoem wil word nie, sê dié wat vir hul Sassa-geld van die poskantoor afhanklik is, sal die swaarste kry as die poskantoor sluit.

“Die arm mense gaan die swaarste kry, want nie almal het vervoergeld om tot by Vredenburg se poskantoor te kom nie,” sê die inwoner.

Die inwoner glo dat die verdagtes ’n patroon volg en deel is van ’n nasionale netwerk. Hy bevraagteken hoekom net Saldanhabaai-poskantoor so geteiken word.

“Hulle weet presies wat binne die gebou aangaan en dit moet met die hulp van iemand wees wat ’n verbintenis met die poskantoor het. Die mense is te gemaklik.”

Die inwoner sê basiese veiligheid moet ingestel word om almal te beveilig.

Wayne Solomons van die White City-buurtwag stem saam dat veiligheid ’n groot probleem by die poskantoor is. “Veiligheid moet verskerp word en sodra die betalings gemaak word, kan die poskantoor die polisie en buurtwag nader om ’n ogie te hou,” sê Solomons.

As ’n inwoner van White City meen Solomons as die poskantoor sy deure permanent moet sluit, sal dit groot druk op mense plaas om vervoer Vredenburg toe te kry.

Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, sê ’n program is opgestel om veiligheid by alle takke op te skerp, insluitend die Saldanhabaai-poskantoor.

Hy sê maniere word ontwikkel om poskantore baie minder aantreklik vir rowers te maak deur die hoeveelheid geld wat by alle takke gehou word, te verminder.

Tereza Burger, kommunikasiebeampte van die Saldanhabaai-munisipaliteit, voeg by die munisipaliteit het ter ondersteuning vir die beveiliging van die poskantoor sy sigbaarheid en patrollering van die omgewing op ’n meer gereelde grondslag verhoog.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article