Plaaslike vissers en ander teenstanders van beplande seismiese toetse langs die Weskus is vandag (Donderdag) weer in die Kaapstadse hooggeregshof.

Dit volg nadat die hof ’n dringende interdik teen die seismiese toetse, wat deur die Australiese Searcher Seismic beplan is, toegestaan het.

Maandag (14 Februarie) was die groep ook by die hof toe die olie-en-gas-maatskappy ’n aansoek gebring het om die tussentydse interdik te laat hersien.

Searcher het laat verlede jaar ’n permit ontvang om na olie en gas langs die plaaslike kus te soek.

Teenstanders meen egter die korrekte prosedure is nie gevolg om die verkenning te kan doen nie. Nadat die hof die toetse gestaak het, het Naseegh Jaffer, direkteur van Masifundise, gesê ’n stryd lê steeds vir Weskus-vissers voor.

“Ons is bemoedig deur hierdie uitspraak deur regter Thulare. Alhoewel daar ’n strawwe stryd vir Weskus-gemeenskappe voorlê, is dit gewis ’n stap in die regte rigting en gee dit duidelik ’n aanduiding dat die hof nie pogings om met die regsproses te vroetel, sal toelaat nie.

“Dit is duidelik in die argumente wat deur Searcher aangevoer word dat winste bo die lewensbestaan ??en welstand van vissersgemeenskappe geag word. Die konstante klem op verlies aan inkomste as gevolg van die staking van hul aktiwiteite het ’n taamlik grimmige prentjie geskets vir gemeenskappe wie se lewe van natuurlike hulpbronne uit die see afhanklik is,” het Jaffer gesê.

Die Weskus-saak kom ook terwyl die oliereus Shell en Gwede Mantashe, die minister van minerale bronne en energie, se aansoek om teen die tydelike opskorting van soortgelyke toetse aan die Wildekus te appelleer, met koste van die hand gewys is.

Shell was van plan om seismiese opnames langs die Wildekus te begin. Soortgelyk aan ontstelde Weskussers, voer inwoners aan die Wildekus aan hulle is nie oor die beplande toetse geraadpleeg nie.

In Shell se geval mag die maatskappy nie voor 31 Mei weer met hul opnames begin nie.

Intussen hoop vissers vandag by die hof op die volle uitspraak om te hoor of Searcher met sy verkenning mag voortgaan al dan nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article