Suid-Afrika se jong akteurs wat aan vanjaar se derde Dramaweb SA- aanlyn kompetisie gaan deelneem, moet veters vasmaak en hare agteroor kam, want die pryse vir 2022 se talentkompetisie gaan hulle soos ’n stormwind tref!
Hierdie gewilde aanlyn kompetisie wat in 2020 tydens die grendeltyd deur akteurs Ira Blanckenberg en Waldemar Schultz van stapel gestuur is om die jeug te inspireer en in teaterkuns en drama op te lei, word vanjaar in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied en sal voortaan as KKNK Dramaweb SA bekend staan.
Vir hul deelname het die inskrywers nie net die kans om hul talent te slyp en teenoor hul eweknieë landwyd deel te neem nie, maar kan ook vanjaar opwindende pryse wen. Dit sluit in: Twee hover boards, asook geskenkbewyse van Bargain Books, Yokico, Vida e caffè, Wimpy, Revlon, N1 City Mall, Exclusive Brands Online en vele meer – met ’n totale waarde van R20 000.
Inskrywings vir KKNK Dramaweb SA is reeds oop.
Alle inligting oor inskrywingskoste, video-opnames, spertye, taalvoorkeur van deelnemers, afdelings waarin hul kan deelneem en aanlyn ondersteuning aan hulle beskikbaar tydens die kompetisie, kan by www.dramawebsa.co.za gevind word, of deur Dramaweb SA of die KKNK se webblad by www.kknk.co.za te besoek.
Hulle kan ook vir Daventia Kennedy by 044 203 8600 kontak, of ’n e-pos stuur na info@dramawebsa.co.za. Blanckenberg is ook beskikbaar vir raad en ondersteuning by ira@dramawebsa.co.za.
Die KKNK word ondersteun deur Absa en Media24, met bykomende steun van die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Wes-Kaapse regering se departement vir kultuursake en sport, asook die Oudtshoorn-munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton-stigting.


