’n Informele handelaar wat nie ’n permit gehad het om handel te dryf nie, het Dinsdag ’n hofsaak teen die Stad Kaapstad gewen.
Die Suid-Afrikaanse Informele Handelaarsalliansie (Saita) het daarna gesê pres. Cyril Ramaphosa se kwytskelding van permitte geld tot Desember vanjaar en informele handelaars in ander munisipaliteite mag nie meer oor permitte “geteister word nie”.
In die Saldanhabaai- munisipale gebied heers ook groot ontevredenheid oor handelspermitte en aangewese staanplekke waar handelaars mag sake doen.
“Ons is moeg om te bel en e-posse te stuur. Intussen sit ons sonder ’n verdere inkomste,” het Heather Robb Loubser in haar klagte aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) namens informele handelaars wie se staanplekke by Dial Rock in Saldanha en die St. Helenabaai-afdraai deur wetstoepassingsbeamptes verwyder is, gesê.
In haar klagte het Loubser gesê sy is ontsteld omdat ander handelaars in die gebied skynbaar onverstoord voortgaan met verkope op “onwettige plekke”, terwyl hulle gevra is om hul staanplekke te verlaat.
Loubser sê verskeie oor-en-weer-gesprekke is met die SBM oor die handelaars se ontevredenheid oor die saak gevoer en sy is meegedeel dat ander informele handelaars wat op “onwettige plekke” handel dryf, ook verwyder sal word.
Maar steeds sien sy weke later handelaars op plekke waar hulle nie mag wees nie.
“Hoekom mag hulle handel dryf en nie ons nie? Kry jul huis in orde, SBM. Niemand steur hulle aan ons nie,” het ’n teleurgestelde Loubser gesê.
Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het by navraag gesê “munisipale ordonnansies maak voorsiening vir handelsgebiede wat deur die plaaslike ekonomie- departement aangewys en bestuur word. Applikante doen dus aansoek by hierdie departement om goedkeuring te verkry, waarvolgens permitte uitgereik word.
“Die funksie van wetstoepassing is alleenlik om toe te sien dat informele handelaars permitte het om by ’n aangewysde handelsgebied handel te dryf. Indien nie, word die nodige prosesse gevolg,” het sy verduidelik.
Saita, die amptelike stem van meer as twee miljoen informele handelaars in Suid-Afrika, het Dinsdag (1 Maart) bevestig dat die landdroshof in Blue Downs alle aanklagte teen ’n informele handelaar wat aangekla is, teruggetrek het. Die handelaar is daarvan beskuldig dat hy sake sonder ’n handelspermit bedryf het.
“Kaapstad en alle ander munisipaliteite moet erkenning gee aan die feit dat die kwytskelding van handelspermitte tot Desember vanjaar ingestel is en dat informele handelaars nie geteister mag word nie,” skryf Saita.
Paul Bester, nasionale direkteur van lidmaatskap vir Saita, wat Ettiene Gideons, die informele handelaar, in die hof verteenwoordig het, het gesê: “Dit is ’n oorwinning vir alle informele handelaars, en ’n sterk waarskuwing aan Kaapstad se amptenare en alle munisipaliteite oor die land heen, dat president Ramaphosa se kwytskelding van permitvereistes tot Desember 2022 geldig is en plaaslike verordeninge nie van toepassing is nie.”
In Augustus 2020 het die president die verslapping van permitvereistes vir handelaars tot einde 2022 aangekondig. Dit volg op ’n opdrag wat op 15 Julie 2020 deur die voormalige minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, gepubliseer is. ’n Uitstel is toegestaan aan alle informele handelaars wie se permitte verval het, of wat begin handel dryf het en weens inperkingsregulasies nie vir sakepermitte aansoek kon doen nie.
Die Stad Kaapstad het besluit om nie die nasionale riglyn te implementeer nie, maar het eerder op 6 Januarie vanjaar ’n regulasie uitgevaardig wat erken dat geldige permitte wat verval het, nie tot 30 Junie 2022 hernu hoef te word nie.
“Ten spyte van hierdie regulasie is informele handelaars steeds beboet en deur wetstoepassing geteister oor permitte wat verval het,” het Bester gesê. “Informele handelaars is ’n broeikas vir werksgeleenthede, en entrepreneurskap, ook dra hulle tot ’n derde van alle werksgeleenthede in die land by.”


