Langebaan sal eersdaags sy eie sportterrein hê, hoewel die munisipaliteit nie veel oor dié planne wil uitlaat nie.
Langebaan is die enigste dorp wat nie ’n amptelike sportterrein het nie, en sport soos sokker en rugby word op skoolterreine of private velde gespeel. Die Saldanhabaai-munisipaliteit het intussen met werk aan sportgeriewe naby Langebaan Country Estate begin. Die indraai vir dié velde is in Oostewalstraat.
“Die projek word deur die munisipaliteit gefinansier; geen eksterne partye is betrokke nie. Fase 1 van die projek is tans onder konstruksie,” het Ethne Lawrence, die munisipale woordvoerder, verduidelik. Die eerste fase van die sportgeriewe sal ’n rugbyveld, omheinings, outomatiese besproeiingstelsel, gravitasie-besproeiingspyplyn van die rioolwerke af, kleedkamers en ablusiegeriewe insluit.
Volgens die munisipaliteit is sowat R13 miljoen vir die konstruksie opsygesit. Fase 1 van die bouwerk is verlede maand voltooi, waarna werk voortgaan.
Lawrence het by navraag gesê die munisipaliteit wil nie te veel uitbrei oor wanneer die terrein voltooi sal wees nie.
“In hierdie stadium is ons versigtig om te veel inligting deur te gee, aangesien verdere fases/uitbreidings afhanklik is van begrotingsvoorsiening of moontlike eksterne finansiering, waarvan albei nie in hierdie stadium bevestig kan word nie,” het sy gesê.




