Minnie von Zeuner het die Kaapstad-fietstoer oor 109 km voltooi.


Die Covid-19-inperkings het vir baie nuwe perspektief op die lewe gegee.

Minnie von Zeuner van Vredenburg het in daardie tydperk die buitelug geniet en gereeld gaan fiets ry. “Niks is so mooi as wanneer die son opkom en jy op jou fiets is nie; dan is ek nog meer dankbaar teenoor God,” vertel sy.

Aangesien sy ’n liefde vir fietsry het, het Von Zeuner besluit om vanjaar op Sondag 13 Maart aan die Kaapstad-fietstoer oor 109 km deel te neem ter herdenking aan haar man, wyle Derek von Zeuner, die gewese skoolhoof van Hoërskool Vredenburg, asook wyle Anthony Muller, die voormalige hoof van Steenberg’s Cove Primêr, om geld vir die primêre skool in te samel.

“Om Derek en Anthony met die fietstoer te eer, was ’n groot eer. Hulle het ’n baie mooi vriendskap gehad en een groot passie gedeel in hul liefde vir die leerders asook hul passie vir onderwys. Albei het ook ’n liefde vir fietsry gedeel.”

Von Zeuner het die 109 km in vyf uur en 59 minute voltooi. “Dit was koud en nat – sopnat – nog voordat ons weggespring het. Dit was ’n uitdagende rit. Die eerste 50 km het ons meestal in die reën gery, maar die laaste 50 km was baie beter. Die wind, wat die heeltyd van voor gewaai het, het ook ’n groot rol gespeel.”

Karyke Smit, hoof van Steenberg’s Cove Primêr, sê sy staan regtig verstom dat mense dit in hul hart vind om die skool en kinders so te seën. “Dis ’n riem onder die hart om te weet dat mense soos Von Zeuner saam met ons aan ons kinders se toekoms wil bou,” vertel Smit.

Smit voeg by dat die skool graag met die geld gazebo’s wil koop asook sportklere, wat atletiekfrokkies, netbalklere en rugbytruie insluit, vir die leerders wil laat maak, maar nog nie genoeg ingesamel het om dit ’n werklikheid te maak nie. Tot dusver is sowat R4 000 ingesamel.

Von Zeuner sê dit was ’n groot voorreg om vir Steenberg’s Cove Primêr te kon ry en so ’n verskil in die kinders se lewe te kon maak.

Lesers wat skenkings wil aanbied, kan die skool by 022 736 1873 of 082 700 0707 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article