Die meeste mense probeer sonde met die bure vermy, maar hoe gemaak as die buurmense hul werf as ’n slagplaas gebruik?
Dit was nou wel ’n eenmalige gebeurtenis, maar die buurvrou sê die toneel wat sy aanskou het, was genoeg om haar nagmerries te gee.
Dié buurvrou, wat verkies om anoniem te bly, het by Weslander oor die voorval gekla.
Alhoewel dit al vroeër vanjaar in die middedorp van Vredenburg gebeur het, het die buurvrou verlede week vir Weslander gevra of die “slagters” vir hul oortreding gestraf is en indien wel, watter munisipale ordonnansie hulle oortree het.
Volgens die vrou is die skape op daardie spesifieke dag vir ’n begrafnis op die werf met ’n stomp mes keelaf gesny en geslag.
Sy sê die skape het gely en lank geneem om te vrek en hul vreesbevange geblêr het haar geweldig ontstel. Sy kon plasse bloed oral op die bure se erf sien.
Munisipale wetstoepassing is glo ’n paar keer gebel voordat wetstoepassingsbeamptes op die toneel aangekom en die slag van die skape gestop het.
Ethne Lawrence, die woordvoerder van Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het verlede week by navraag gesê die “slagters” is met R1 500 beboet ingevolge die munisipale verordening wat verwys na openbare oorlaste.
Sy sê ook die slag van diere op ’n dorpserf is nie toelaatbaar nie.
Wat voedsel-higiëne betref, werk die SBM nou saam met die Weskus-distriksmunisipaliteit wanneer klagtes oor higiëne ontvang word.
Maar die buurvrou het nie eens aan voedsel-higiëne gedink toe die skape geslag is nie.
“Die slagting was baie wreed en ek het gevoel dis dieremishandeling,” het sy verduidelik.
Sy sê twee skape was glo nog lewend toe die wetstoepassingsbeamptes kom ingryp het, maar is heel waarskynlik op ’n ander plek gaan slag.
Volgens Lawrence mag plaasdiere nie op dorpserwe aangehou word nie, slegs mak diere wat normaalweg in ’n huishouding vir kameraadskap of vermaak aangehou word.
Weslander het juis vroeër in Maart berig oor die onooglike sinkstrukture van die “plasie” in die veld naby die Tierkloof- en Groenkloofgebied in Vredenburg, waar bokke en skape ook op die perseel rondloop.
Die bure kla al vir maande oor die situasie en het foto’s aan Weslander gestuur waar die bokke tussen die huise in die woonbuurt rondloop.
Hierdie grond is egter vir landbou gesoneer en daarom is die plaasdiere en tydelike strukture tegnies gesproke, tot die bure se groot frustrasie, wettig op die perseel.




