Rooftogte by winkels in Velddrif is besig om toe te neem.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die plaaslike polisiekluster, is twee winkels Maandag deur gewapende rowers geteiken.

Die eerste rooftog het nagenoeg om middagete by Die Skooltjie-padstal plaasgevind waar vyf rowers mense wat brood by die winkel afgelewer het, met messe en vuurwapens getreiter het. Nadat dié vier slagoffers deur die rowers agter in die afleweringswa toegesluit is, het iemand wat daar verbygery het die polisie laat weet. Die verdagtes se voertuig is tussen Velddrif en Dwarskersbos afgetrek. Ná die rowers te voet agterna gesit is, is hulle gevang.

“Die flinke optrede van die polisie en buurtwaglede het gelei tot die beslaglegging van drie vuurwapens en al die gesteelde goedere is teruggevind,” het Helfrich gesê.

Die verdagtes het Woensdag 16 Maart in die Laaiplekhof verskyn.

Die tweede rooftog het skuins ná 21:00 by ’n winkel in Voortrekker­straat plaasgevind. Volgens Helfrich het ’n rower wat ’n lang mes by hom gehad het, ’n personeellid in die winkel oorval en al die geld in die kasregister, die personeellid se selfoon en ’n paar pakkies sigarette gebuit voordat hy te voet gevlug het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article