Diazville in Saldanha het die afgelope naweek ’n onbeplande kragonderbreking ná kabeldiefstal en vandalisme ondervind.


Beurtkrag is reeds ’n frustrasie, maar wanneer dit boonop deur ’n onbeplande kragonderbreking gevolg word, raak inwoners erg moedeloos.

Dit is juis weens beurtkrag dat die dorpe van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) deesdae baie meer onbeplande kragonderbrekings ondervind.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die SBM, is die gebied se elektriese netwerke nie ontwerp om gereeld aan- en afgeskakel te word nie.

“Beurtkrag het dus ’n groot invloed op die betroubaarheid van die netwerk omdat dit elke keer, met beurtkrag, onder abnormale stres geplaas word. Dit lei tot foute waaroor ons nie beheer het nie,” het Lawrence verduidelik.

“Gewone instandhouding help ook nie om dit te verminder nie. Onder gewone omstandighede sou die kragtoevoer stelselmatig aangeskakel word, maar dit is nie moontlik met beurtkrag nie.”

Verder sukkel die SBM geweldig met misdadigers wat toeslaan sodra die beurtkrag begin. Baie van die gebied se netwerke word gedurende beurtkrag gevandaliseer. Noodsaaklike komponente word gebreek en gesteel.

Wanneer die krag dan ná beurtkrag weer aankom, en daar nie krag is nie, moet die fout op gevandaliseerde toerusting eers herstel word.

Dit lei tot groot skade vir die munisipaliteit en verg baie tyd waarin die spesifieke fout of skade opgespoor en herstel moet word voordat die elektrisiteit weer aangeskakel kan word.

Maar wie is nou eintlik verantwoordelik vir herstel en probleemoplossing wanneer foute opduik – Eskom of die SBM?

Volgens Lawrence kan dit gesê word dat indien iemand ’n elektrisiteitsrekening van Eskom ontvang of deur een van Eskom se verkoopstelsels kitskrag koop, dit in die Eskom-voorsieningsgebied val.

Wanneer ’n verbruiker ’n elektrisiteitsrekening van die munisipaliteit ontvang en deur dié se stelsels kitskrag koop, is dit die SBM se jurisdiksie.

Gevalle waar Eskom-foute ook munisipale verbruikers beïnvloed, kom egter voor.

“Met foute en geleier-diefstal op sommige van Eskom se lyne, het dit al gebeur dat Hopefield en Langebaan lank sonder krag was terwyl Eskom eers die toevoer na die munisipaliteit moes herstel,” het Lawrence gesê.

Wanneer iemand met die munisipale infrastruktuur peuter, moet dit dadelik by die polisie aangemeld word.

“Indien ons as die munisipaliteit dit agterna aanmeld, is dit hoorsê en kan die polisie nie proaktief optree nie. Die bystand-elektrisiën is ook nie ’n veiligheidsbeampte om daarop te reageer nie. Hulle kan slegs na afloop van die voorval die foute probeer regmaak.”

Volgens Lawrence ervaar bystandelektrisiëns soms uitdagings wanneer hulle buite werksure in sekere gebiede moet werk.

“Van hulle is al deur ongewenste karakters aangeval en beroof waar hulle probeer het om herstelwerk aan foutiewe of gevandaliseerde toerusting te doen. Van hulle moes selfs berading hiervoor ontvang.

“Ons besef dat mense ongeduldig raak wanneer die krag af is, maar ons kan almal seker maak om alles binne ons vermoë te doen om die krag so gou as moontlik te laat herstel. Waar ons alternatiewe toevoerroetes het, probeer ons om eers die kragtoevoer aan te sit voordat ons met herstelwerk begin. Dit kan egter op sommige plekke nie gedoen word nie, en dan moet die herstelwerk eers gedoen word.”

Volgens Lawrence is dit in die meeste gevalle nie moontlik om ’n aanduiding te gee van hoe lank die krag af sal wees nie.

Die fout moet eers opgespoor word. Dit moet dan ondersoek word om te bepaal wat gedoen moet word om dit te herstel.

Eers dan kan bepaal word hoe lank die herstelwerk gaan neem.

In die geval van vandalisme gebeur dit dikwels dat die elektrisiëns ’n tweede of derde plek kry waar die netwerk beskadig is nadat die eerste deel reeds reggemaak is.

“Die munisipale infrastruktuur is in wese die gemeenskap s’n wat deur die SBM bedryf word. Elke keer as dit gevandaliseer word, is dit die gemeenskap wat daaronder ly omdat die vervanging en herstelwerk geld kos wat eerder gebruik kon word om infrastruktuur tot voordeel van die gemeenskap te verbeter,” het Lawrence gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article