Eric Ntabazalila van die NVG ontvang die gemeenskap se versoekskrif van Thyrone Williams.


“Genoeg is genoeg!” en “Ons soek antwoorde! Wie het Leo geskiet?”

Dít was sommige van die eise en vrae op die betogingsplakkate van mense in die ontevrede Laingville-gemeenskap, wat Maandag aan ’n vreedsame betoging in St. Helenabaai deelgeneem het.

Die gemeenskap is baie ontevrede oor die feit dat niemand vir Leo Williams (9) se skietdood verantwoordelik gehou gaan word nie.

Weslander het destyds berig oor die gewelddadige onluste wat in Julie 2020 in St. Helenabaai opgevlam het.

In hierdie tyd, terwyl openbare-orde-polisiëring die vrede in Laingville probeer bewaar het, is die kleine Leo deur ’n dwaalkoeël getref terwyl hy in sy oom se huis gesit en televisie kyk het.

Die koeël, wat vermoedelik deur ’n polisiebeampte buite in die straat afgevuur is, is dwarsdeur die sinkstruktuur van die huis en het Leo in die kop getref.

Leo is met ’n ernstige kopbesering in die hospitaal opgeneem.

Hy is lank deur lewensondersteunende masjiene aan die lewe gehou. Hy is later breindood verklaar en die familie het weke later besluit om die masjiene te laat afskakel.

Die saak is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek en die gemeenskap van Laingville, wat geregtigheid vir Leo eis, het die afgelope twee jaar toenemend ontevrede geraak oor die feit dat hulle baie min terugvoering oor vordering met die ondersoek kry.

Weslander het Donderdag 10 Maart berig oor die gemeenskap se teleurstelling nadat hulle gehoor het die polisie se ondersoek is onopgelos afgesluit.

Thyrone Williams (geen familiever­band met Leo), ’n bekende plaaslike gemeenskaps­aktivis wat ook sedert November verlede jaar sy mense as raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) verteenwoordig, het vroeër in Maart aan Weslander gesê die departement van openbare vervolging het die finale ondersoekverslag aan die Vredenburg-landdroshof gestuur, waar besluit is om nie met vervolging voort te gaan nie, aangesien “volgens hulle nie voldoende bewyse teen enigiemand” gevind kon word nie.”

Die gemeenskap het hierna besluit om Maandag (21 Maart) aan ’n betoging deel te neem waarna ’n versoekskrif aan verteenwoordigers van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) oorhandig is. In die dokument versoek Leo se familie en die gemeenskap die NVG en Opod om Leo se saak te heropen, om die polisiebeamptes wat daardie tragiese nag in 2020 aan diens was te identifiseer en om die volledige ondersoekverslag aan hulle bekend te maak. Die gemeenskap het die NVG ’n week gegee om op hul versoeke te antwoord.

Eric Ntabazalila van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap het die versoekskrif Maandag ontvang en die gemeenskap verseker die NVG sal sy bes doen om binne sewe dae terugvoering te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article