Só lyk die tange wat in die besit van ’n man gevind is wat aan ’n kragboks gepeuter het.


Die polisie het verlede Dinsdag 22 Maart ’n man in Vredenburg betrap wat besig was om elektriese infrastruktuur te beskadig, vermoedelik in ’n poging om koperkabels te steel.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, beloop die skade van die vandalisme sowat R3 000.

Die polisie het ook twee tange in die verdagte, Barry-John Jooste (26), se besit gevind waarmee die skade aan die elektriese infrastruktuur aangerig is. Jooste het Donderdag 24 Maart in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Kabeldiefstal en die beskadiging van belangrike infrastruktuur wat kragvoorsiening en internet-dienslewering belemmer, is ’n toenemende probleem in die Saldanhabaai- munisipale gebied.

Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), is hierdie infrastruktuur in wese die gemeenskap s’n wat deur die SBM bedryf word.

“Elke keer as dit gevandaliseer word, is dit die gemeenskap wat daaronder ly omdat die vervanging en herstelwerk geld kos wat eerder gebruik kon word om ander infrastruktuur tot voordeel van die gemeenskap te verbeter,” het Lawrence gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article