Vissers wat ontevrede is met die 2021-visregtetoekenningsproses (Frap) kan nou hul aansoeke op appèl neem.
Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewing, doen ’n beroep op ontevrede aansoekers om voor Vrydag 29 April appèl aan te teken.
Appèlle moet aanlyn ingedien word op die voorgeskrewe appèlvorm op die Frap se 2021-webwerf.
Die departement het Vrydag (25 Maart) die toekenning van regte en die puntekaart op die 2021 Fishing Rights Allocation Process se aanlyn platform vir al die visvangsektore gelaai. Appèl kan aangeteken word teen die uitsluiting, die weiering om visvangregte toe te staan ??of teen die besluit, proses en/of metodologie oor die departement se bepaling van die visvangmetodes. “Aansoekers kan met onmiddellike effek by die Frap 2021-aansoekwebblad aanmeld met hul aanmeldbewyse om toegang tot hul toekenning van regte en die puntekaart te verkry en dit daar af te laai. “Aansoekers wat appèl wil aanteken en hulp nodig het, kan na een van die 10 gedesentraliseerde kantore gaan,” het die departement in ’n verklaring verduidelik.
Dié kantore is oop van Maandag 4 April tot Donderdag 14 April van 08:00-16:00 en Saterdag tussen 08:00 en 13:00.
Vissers se appèlle sal beoordeel word en gegewe die bevindings kan die registrasieregte, die totale toegelate vangste en totale visvangmetodes of ’n kombinasie van die drie aangepas en verander word.
Vissers wat nie toegang tot die aanlyn webblad het nie en ook nie een van die kantore kan besoek nie, kan die departement per telefoon kontak.
Vissers kan 021 402 3727 skakel of e-pos stuur na FRAPenq_2020@environment.gov.za om alternatiewe reëlings te tref om hul appèl aan te teken. Die departement maan dat enige appèl-aansoeke wat die departement ná die sluitingsdatum ontvang, nié aanvaar sal word nie.


