Die atlete van Vredenburg se Salkoriane-atletiekklub was ook onder die plaaslikes wat verlede maand aan die Weskus-marathon deelgeneem het.
Die Salkoriane-atlete het die klub Saterdag 19 Maart trots gemaak met die ontwikkelingspan wat hul eerste Weskus-marathon-medaljes ingeryg het. Die jong atlete het die 5 km- en 10 km-wedlope saam met die gevestigde junior en senior atlete aangepak.
Die gewilde atletiekgeleentheid, wat jaarliks deur die Strandlopers-atletiekklub aangebied word, het duisende atlete gelok.
Salkoriane se jongspan het hulle ten spyte van die nuwe roete wat gevolg is, goed van hul taak gekwyt.
Volgens die Salkor-bestuur het almal by die wenstreep aangekom – kaalvoet en al.
Die klub se meestersatlete het die afgelope naweek aan hul eerste veldnommers in Groenpunt deelgeneem. Spiesgooi, gewigstoot en diskusgooi was Saterdag (4 April) op dié gesoute atlete se program.
Sakkie Mentoor van die klub nooi Weskussers om die klub Vrydag 29 April by sy geldinsamelingsprojek te ondersteun.
Dié geld sal gebruik word om skoene en drafklere vir die atlete aan te skaf sodat hulle beter kan presteer.





