Altesaam 37 mense is die afgelope Paasnaweek weens botsings op Wes-Kaapse paaie dood.
Volgens Des Paton, waarnemende provinsiale verkeer-streekdirekteur vir die Weskus, was nie een van hierdie 37 sterftes op Weskus-paaie nie.
Hy het Woensdag aan Weslander gesê hy wag nog vir die finale syfer, maar so ver sy kennis strek het geen noodlottige botsings oor die Paasnaweek plaaslik gebeur nie.
“Ek noem dit, want soms duik gevalle later in munisipale gebiede op, soos voetgangers wat gesterf het, en die inligting bereik ons nie altyd dadelik nie,” het hy verduidelik.
Heelwat meer mense is dié Paasnaweek as verlede jaar in die provinsie dood. Altesaam 25 mense is in die 2021-Paasnaweek dood.
Dit is egter belangrik om te noem dat Paasnaweek 2021 ’n aansienlike daling in padsterftes in vergelyking met 38 sterftes gedurende die Paasnaweek van 2019 getoon het.
Volgens ’n persverklaring wat die Wes-Kaapse verkeersdepartement Maandag uitgereik het, is benewens die 37 sterftes die afgelope naweek nog nege mense van Maandag 11 tot Woensdag 13 April voor die Paasnaweek op die provinsie se paaie dood.
Van dié gesamentlike 46 sterftes was 15 van die oorledenes voetgangers en slegs een ’n motorfietsryer.
Altesaam 280 geïntegreerde padblokkades, voertuigkontrolepunte en spoedbeheerbedrywighede is van 11 tot 18 April op Wes-Kaapse paaie uitgevoer.
Daylin Mitchell, provinsiale minister van vervoer en openbare werke, het in ’n persverklaring van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke gesê gedurende hierdie tydperk, wat die Paasnaweek ingesluit het, is 43 345 voertuie voorgekeer en nagegaan.
In hierdie tydperk is 99 mense weens oortredings op plaaslike paaie in hegtenis geneem.
Byna twee derdes hiervan – altesaam 63 mense – was weens dronkbestuur.
Die departement het in sy persverklaring ’n beroep op regslui en alle rolspelers in regsprosesse gedoen om te verseker dat streng teen hierdie onverantwoordelike padgebruikers opgetree word.
Paton reken met die verkeersdepartement se patrolliewerk op strategiese punte het dit die afgelope naweek werklik goed op die Weskus se paaie gegaan.
Hy sê ’n paar voorvalle is wel aangemeld, maar geen ernstige botsings het gebeur nie.
Weskus-paaie was egter ongelooflik besig en Paton glo die naweekgangers wat die Paasnaweek in die vloedgeteisterde KwaZulu-Natal sou deurbring, het besluit om eerder Weskus toe te kom.



