Dis duidelik dat sommige mense keelvol vir maskers is.
Ander voel weer maskers is baie behulpsaam om te voorkom dat hulle siek word.
Hoe dit ook al sy, die dra van gesigmaskers word steeds deur die wet verplig.
Oor die afgelope twee jaar van die pandemie het verskeie Suid-Afrikaners slaags geraak met wetstoepassers en polisiebeamptes oor die dra van maskers en ander beperkende Covid-19-veiligheidsmaatreëls.
Volgens ’n persverklaring van die Suid-Afrikaanse polisiediens is duisende mense sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika in hegtenis geneem omdat hulle nie ’n gesigmasker gedra het nie.
Vir vele het die ophef van die ramptoestand in Suid-Afrika op 5 April vanjaar ’n groot sug van verligting gebring met die verslapping van die maatreëls ten opsigte van maskers dra.
Mense hoef nie meer in die buitelug maskers te dra nie, maar die wet verplig steeds dat almal 1 m van mekaar af weg bly. Die dra van maskers in ’n gebou word steeds verplig.
Maar vir sommige mense, soos ’n man (49) wat Dinsdag met ’n veiligheidswag in Vredenburg slaags geraak het, het die dra van gesigmaskers blykbaar een te veel geword.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het dié man Dinsdagoggend om 08:00 probeer om ’n bekende kettingwinkel op die dorp sonder ’n masker binne te gaan.
Die veiligheidswag by die deur het hom gekeer, waarna die man kwaad geword het. Ná ’n vurige rusie het die man die winkel se glasdeur stukkend geslaan.
Hy is in hegtenis geneem en sal eersdaags in die hof verskyn.




