Langebaan-inwoners se geduld word gevra tydens die volgende fase van die opgradering van Oostewalstraat, Langebaan se hoofpad.
Volgens ’n persverklaring van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het fase 3 van die Oostewalstraat-projek in April begin.
Hierdie deel van die pad se opgradering vind tussen Breëstraat en Sunbirdrylaan, by die seiljagklub plaas.
Fase 1 en 2 van die pad se opknapping, wat die bou van verkeersirkels ingesluit het, is onderskeidelik in 2017 en 2019 voltooi.
Volgens SBM is die kontrak vir die konstruksie van fase 3 ter waarde van sowat R31 miljoen in Maart aan die kontrakteur toegeken. Die beoogde kontraktydperk is ongeveer 12 maande.
Die opgradering van fase 3 sal die bestaande padbelyning volg met geringe veranderings om die ryvlakgehalte te verbeter, sowel as verbeterings by aansluitings, om deel van verkeerskalmerende maatreëls te vorm.
Die betrokke deel van die pad sal ’n enkelpad van 3,4 m in baanwydte wees met ’n voetgangersypaadjie aan die oostekant van die pad en ’n breër, gedeelde sypaadjie en -fietspad aan die westekant (strandmeer se kant) van die pad.
Gedefinieerde voetoorgange en nuwe straatligte sal voorsien word. Volgens SBM sal bestaande stormwaterinfrastruktuur ook as deel van die kontrak opgegradeer word.
Inwoners en besoekers moet kennis neem van opgerigte ompad-aanwysingsborde. Inwoners en besoekers aan Langebaan se polisiekantoor, die 4 Spes-magte, kerke, woonhuise, gastehuise en sakeondernemings tussen Breëstraat en Sunbirdrylaan sal toegang tot die pad kry, maar streng beheermaatreëls sal toegepas word.
Die eerste gedeelte wat vir opgradering geoormerk is, sal tussen Breëstraat en Smalstraat wees, met ’n geskatte konstruksietydperk van ongeveer vyf maande, indien die winterreënseisoen dit toelaat.
BM versoek vriendelik alle geaffekteerde inwoners en besoekers om geduldig te wees en moontlike probleme tydens die bou van fase 3 te rapporteer.
“Die munisipaliteit sal sy uiterste bes doen om die gemeenskap op hoogte te hou via elektroniese media, asook deur die openbare skakelbeampte en Siroccon, die aangestelde raadgewende ingenieurs,” aldus die verklaring.





