Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kannapryse, wat erkenning aan produksies en individue vir uitnemende bydraes tot die fees gee, is Vrydag 22 April by ’n swierige geleentheid by M-Studios in Philadelphia, Kaapstad, aangebied.

Die akteur Marion Holm was die aanbieder en pryse in 19 afdelings is uitgedeel. Die geleentheid is regstreeks aanlyn gestroom na Netwerk24 en die KKNK se web- en Facebookblad en is steeds hier beskikbaar.

Dié jaar se Kannapaneel was Diane de Beer, Laetitia Pople, Marguerite Robinson, Gary Naidoo, Alby Michaels en Robyn van de Rhede. Die sameroeper van die onafhanklike paneel was Rafiek Mammon.

Mammon sê hy is amper te bang om te sê “geluk” en “welgedaan” aan net die wenners. “Ek wil liewer praat oor hoe ’n enorme taak dit was om by die kortlys van benoemdes uit te kom, omdat die gehalte van die werk so goed is. Dit is maar waaroor dit gaan – die gehalte van die werk wat kunstenaars en teatermakers vir vanjaar se KKNK gelewer het. Dis asof twee jaar se grendeltydperk en Covid-19 almal aangemoedig het om beter en sterker daaruit te kom, met ’n duidelike honger en begeerte om goeie teater te wil maak,” sê hy.

Die huldigingsproduksie van die ontslape Pieter Fourie, Ek, Anna van Wyk, was die groot wenner van die aand en het met vyf Kannas weggestap: vir beste teateraanbieding, regie, ontwerp (Marthinus Basson), vroulike akteur (Tinarie van Wyk Loots) en manlike byspeler (Carlo Daniels).

Die produksie die oerkluts kwyt, wat die 70ste verjaardag van twee ikone – Antoinette Kellermann en Antjie Krog – gevier het, is met twee Kannas vereer vir uitnemende literêre bydrae (Frieda van den Heever) en beste vroulike byspeler (Ancient Voices).

Karatara, ’n uitsonderlike multi-dissiplinêre dansproduksie en roerende blik op die impak en gevolge van die Knysna-brande in 2018, het die prys vir beste debuutdrama ontvang.

Die Absa-Kanna vir bydrae tot visuele kuns is vanjaar toegeken aan die kunstenaar Karin Preller vir haar uitstalling Beyond Memory, en Emo Adams & Take Note is as beste musiekproduksie vereer met hul energieke en uitstaande optredes by die fees.

Wessel Pretorius is as beste akteur aangewys vir sy spel in die Baxter-teater se produksie Kiss of the Spider Woman.

’n Nuwe konsepteaterprojek, Lucky Pakkie-teater – kort stukke in verskillende dissiplines wat deur ’n verskeidenheid opkomende en meer gevestigde kunstenaars as verrassingspakkette aangebied is – is ook met groot opwinding deur feesgehore ontvang. Om skoon te wees, geskryf deur Adriaan Havenga, met Havenga en Conradie van Heerden in die rolverdeling, is aangewys as die beste stuk van die projek.

Mirinda Ntantiso is as beste opkomende kunstenaar aangewys vir haar spel in Op hierie dag, ’n teaterproduksie wat as deel van die KKNK se Oudtshoorn-gefokusde projek, Karoo Kaarte, aangebied is. Karoo Kaarte het ook die Herrie-prys ontvang.

Hierdie jaar is drie pryse oorhandig: . ’n Spesiale prys vir opkomende tegniese talent is aan Clayton Carlson oorhandig;. Braam Avenant is vereer vir sy uitnemende tegniese bydrae oor die jare by die KKNK en Jeanne Steenkamp is vereer as verhoogbestuurder en vir bydraes oor die afgelope dekades, en . Danie Maart het ook ’n spesiale Kanna ontvang vir sy diens van 20 jaar aan die KKNK.

Die Kannapryse en -prysuitdelings is geborg en ondersteun deur Absa, die Het Jan Marais Nationale Fonds, Netwerk24, die ATKV, NATi, Alert Patrol Security, Beans About Coffee, die Oudtshoorn-sakekamer, Wicus Pretorius, Ton en Anet Vosloo, M-Studios, Brainwave Productions, Multi-Media, XL-EVENTS, Van Loveren Wyne en die SAB.

Wenners ontvang geldpryse en ’n houtsneebeeld deur Collen en Johannes Maswanganyi.

Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, het die borge en vennote in sy toespraak vir hul volgehoue ondersteuning bedank – nie net vir KKNK 2022 nie, maar ook die ondersteuning wat lojale vennote, onder meer Absa, Media24, die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering se departement van kultuursake en sport, asook ander borge en donateurs gebied het.

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk en die KKNK, het gesê die afgelope paar jaar was uitdagend.

Theart het ook aangekondig die beplanning vir die 27ste KKNK in Oudtshoorn het reeds begin en feesgangers kan regmaak om weer van 1 tot 9 April 2023 na Oudtshoorn op te ruk vir ’n fees van hoëgehalte musiek, -teater en -gesprekke. Hy het ook genoem klassiekemusiek-liefhebbers sal van 5 tot 9 Augustus vanjaar weer kan uitsien na Klein Karoo Klassique, wat dié jaar ’n paar verrassings en formaat-aanpassings insluit.

Van die ander Kanna-wenners sluit in:. Kanna Slurpie-prys: opkomende kunstenaar (geborg deur Ton en Anet Vosloo): Mirinda Ntantiso vir spel in Op hierie dag. Kanna vir beste bydrae tot visuele kuns (geborg deur Absa): Karin Preller vir die uitstalling Beyond Memory. Kanna vir die beste byspeler, manlik: Carlo Daniels – Ek, Anna van Wyk. Kanna vir die beste byspeler, vroulik: The Ancient Voices: Nomapostile Nyiki en Lungiswa Plaatjies, die oerkluts kwyt; Liewe Heksie en die rolskaatse en meer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article