Kunsliefhebbers vir wie besigtiging van die visuele kunsuitstallings by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) van 2022 nie beskore was nie, kry nou die geleentheid om dié veelbesproke werke van wêreldklas- kunstenaars met ’n 3D- virtuele galery aanlyn op hul rekenaar of selfoon te sien te kry.
Die derde KKNK- virtuele galery neem kunsliefhebbers deur al die vertrekke van die Prince Vintcent-gebou in Oudtshoorn, waar die 2022-KKNK se visuele kuns uitgestal is. Die virtuele galery is nou aanlyn beskikbaar tot Sondag 5 Junie 2022. Nes die KKNK se virtuele galery van 2021 is hierdie toer gebruikersvriendelik.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê die afgelope twee jaar het die KKNK groot sukses met die virtuele galery ervaar. “Tydens die pandemie was dit nie moontlik om kunsgalerye te besoek nie, en die KKNK was trots om tog in hierdie tyd ’n geleentheid vir kunstenaars te skep om hul werke uit te stal, en ook aan kunsliefhebbers ’n geleentheid te kon bied om steeds kuns te waardeer en aan te skaf,” vertel hy.
“Die vorige twee virtuele galerye het ook belangstelling van oor die wêreld heen gelok, en van die kunswerke is ook deur oorsese kopers aangeskaf. Noudat ons weer tydens die KKNK uitstallings in Oudtshoorn kon aanbied, het ons ook die waarde daarvan besef om die kunstenaars en werke nie nét aan die Suid-Afrikaanse publiek wat nie die fees kon bywoon nie, beskikbaar te stel, maar ook aan kunsliefhebbers die wêreld oor.”
Dineke van der Walt, KKNK se visuelekuns-kurator, sê sy verstaan dat baie mense om verskeie redes nie fisiek die fees in Oudtshoorn kon besoek en al die aanbiedinge kon geniet nie, maar dat die kunsuitstallings steeds baie gewild was en deurlopend besigtig is.
“Sedert die fees op 29 Maart geopen het, was daar reeds baie besoekers. ’n Kollega het genoem hy het nog nooit so ’n toeloop van mense gesien nie. Teen die Saterdag was daar weer net so baie besoekers. Ons het geëindig met ’n groter groep mense as waarmee ons begin het – soos jy loop, het daar net nog mense bygekom,” vertel Van der Walt.
Elke aanlyn-uitstalling word vergesel van ’n kort beskrywing van die uitstalling, wat agtergrond en konteks oor die werk verskaf.
Belangstellendes word ook bederf met vier kort bonus-video’s: ’n dokumentêr deur Lieza Louw oor die skeppingsproses van Karin Preller; ’n vorderingsvideo van die ReWOLusie-hekelkunsprojek wat Mary Sibande se 2010-werk, Her Majesty Queen Sophie, uitbeeld; Henrietta Scholtz se Life and Time in Place en Cloud Migration van Phumlani Ntuli.
Van der Walt vertel die gratis kinder-kunsvermaak was ook baie gewild. “Meer as 17 kinders het in ’n stadium in een uur aan die kinderkunsprogram deelgeneem. Ons het tafels en stoele uitgepak, en dit was wonderlik dat soveel kinders daar was wat nie regtig kuns ken nie, maar dit was ’n wonderlike geleentheid om hulle aan kuns voor te stel – hierdie soort werk met hulle is ewigheidswerk.”
Van die werk wat in die aanlyn galery besigtig kan word, sluit in die werke van Mary Sibande, Nkhensani Rihlampfu en Gregg Price; die gewilde Oudtshoorn-projek Karoo Kaarte, Prestik and Paper, asook versamelings uit die Absa-kunsgalery; daar is ook werk deur Dirk Bahmann en Wayne Matthews, groepsuitstallings soos Rich in Fibre, en Liewe Land en meer.
Die werk van Karin Preller word vertoon, en daar is selfs ’n mos-kunswerk deur die tuinboukundige Marcia Visser.
Besoekers aan die aanlyn galery kan ook uitsien na die werke van Ayobola Kekere-ekun, Franklyn Dzingai en The Mapula Embroidery Project, onder vele andere.
Alle werke is inmekaargevleg met vanjaar se visuelekuns-tema, “Ontrafel”.
Alhoewel van die werke wat deel vorm van die virtuele galery reeds verkoop is, is talle werke steeds beskikbaar vir voornemende kopers.
Navrae oor kunswerke kan gerig word aan Dineke van der Walt by dineke@vanderwalt.za.net.




