Bokkomlaan op die banke van die Bergrivier is dekades lank reeds ’n trekpleister vir die streek, maar nadat die Vishuis-restaurant toegemaak het, staan dit deels leeg.
Die gewilde eetplek was van die ondernemings wat hul deure tydens die covid-pandemie gesluit het. Dit blyk egter die gebou het sedertdien tot die ontsteltenis van sommige besoekers agteruitgegaan.
Weslander het onlangs ’n brief van ’n leser ontvang wat ongelukkigheid oor die huidige toestand van die gebou gedeel het. “Die huurkontrak vir die Vishuis in Bokkomlaan is nie hernu nie, wat buiten dat dit ’n toeriste-aantrekking is, seker ook een van die oudste geboue is en bewaar moet word. Die gebou is altyd goed in stand gehou, maar nou is dit ’n leë dop wat redelik vinnig agteruit begin gaan,” het dié bekommerde leser gesê.
Weslander het reeds berig die restaurant was een van vele wat sy deure op 30 Junie verlede jaar weens die pandemie moes sluit (“Covid-19 lockdown Level 4 consequences”, 8 Julie 2021).
Gereelde klante en besoekers het destyds saam hul misnoeë oor die sluiting uitgespreek. “Dit is met groot hartseer dat ons moes sluit. Ek het in hierdie onderneming belê en dit was my lewe en my hele hart,” het Herman Lambrechts, eienaar van die eetplek, toe gesê.
By navraag het Matthew Sheldon, woordvoerder van die Bergrivier-munisipaliteit, laat weet die munisipaliteit is besig met ’n proses om ’n nuwe huurder te vind. Die munisipaliteit het in Mei 2021 besluit om die huidige huurooreenkoms tot 30 Junie vanjaar te verleng.
Bokkomlaan en sy 12 historiese vishuisies is in Januarie 2018 as ’n erfenisgebied verklaar. Die geskiedenis van Bokkomlaan strek terug tot die middel 1700’s toe bokkoms destyds aan die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanje (VOC) verskaf is. Die gedroogte soutvis was toe ’n stapelvoedsel vir slawe.
Die munisipaliteit het verlede Oktober besluit ’n tender vir die vishuis-perseel sal beskikbaar gestel word.
Dié tender is spesifiek vir ’n restaurant. Die huuroor-eenkoms sal vir nege jaar en 11 maande geld.
Kandidate moet ingevolge die tender spesifieke voorwaardes nakom. Dit sluit onder meer in dat die eetplek Weskus-seekos moet voorsit, die bokkom-bedryf se geskiedenis in ag neem en dit in die dekor uitbeeld.
Volgens Sheldon het aansoeke in Desember 2021 geopen met die proses wat in Januarie gesluit het. Hy het bygevoeg die munisipaliteit is besig om deur die aansoeke te werk, waarna ’n suksesvolle kandidaat gekies sal word.





