Die atlete van die Salkoriane-atletiekklub was onder die Weskussers wat onlangs by die SA meesterskampioenskap uitgeblink het.
’n Groot groep van Salkor se atlete het die Boland en die provinsie by die SA kampioenskap in Pretoria gaan verteenwoordig.
Dit was die eerste keer dat só ’n groep meestersatlete van die klub die Wes-Kaap verteenwoordig het. Atlete van die klub het al aan die nasionale atletiekkampioenskap deelgeneem, maar dit was meestal op senior en junior vlak.
Die atlete is almal in die 50-72-jaar-groep wat die Boland-span gehaal het en bo verwagting baie goed gevaar het, verduidelik Sakkie Mentoor van die klub.
Die Salkoriane se uitslae:
. Hennie Basson (70 jaar en ouer) – diskus, waarin hy derde was met ’n afstand van 14,94 m. Basson het ook ’n silwermedalje vir ’n 1,94 m-sprong in verspring behaal.. Sakkie Mentoor (69 jaar en ouer) het goud gewen vir ’n diskusgooi van 19,15 m. In die verspring was hy derde met ’n 3,02-m-sprong en hy het ook ’n bronsmedalje in spiesgooi vir sy afstand van 17,39 m gewen.. Piet Dokter (68 jaar en ouer) het op sy beurt silwer in diskus verower (18,51 m) en goud in spiesgooi (19,77 m). Dokter het ook aan die 5 000 m-stap deelgeneem.. Veronica Leroux het in die gewigstoot ’n afstand van 5,67 m behaal en Patricia Mentoor het ’n afstand van 4,81 m gegooi.. Anthony Arnolds (69 jaar en ouer) was tweede in spiesgooi met ’n afstand van 19,55 m. . Welize Burgess het in die 500 m-stapwedloop deelgeneem.. Phillip Jacobs het ’n silwermedalje in dieselfde item losgestap. Jacobs het ook in die 1 500 m gehardloop en sy tyd van 5:49,0 het hom ’n bronsmedalje vir sy derde plek besorg. Jacobs het ook die SA kampioenskap-medalje vir sy tweede plek in die 5 000 m ontvang.





