Mynbou, landbou, staalwerke en visserye het almal ’n rol te speel in die land se ekonomie en die sektore kan almal op die Weskus gevind word. Vele van hierdie projekte het egter met omstredenheid begin met die plaaslike gemeenskap wat ontwikkelaars laat verstaan “niks vir ons, sonder ons nie”. Hier is ’n paar van die projekte oor die jare.

Akwakultuur

Planne vir die beplande akwakultuur­ontwikkelingsone in Saldanhabaai is in Januarie 2018 deur die departement van omgewingsake goedgekeur. Akwakultuur, die verbouing van mossels en oesters, vind sedert die jare tagtig in Saldanha plaas.

Die departement van landbou, bosbou en visserye beplan om ’n akwakultuur­ontwikkelingsone van 884 ha (later verklein) in Saldanhabaai vir die verbouing van weekdiere en vinvis te ontwikkel, wat deel vorm van die nasionale regering se Operasie Phakisa. Die plaaslike groep Save Langebaan Lagoon is bekommerd oor die impak wat die ontwikkeling op die Langebaan-strandmeer sal hê. Deesdae is die sone egter aan die gang.

Mynbou

In September 2016 berig Weslander oor die Elandsfontein-fosfaatmyn wat ’n mynlisensie gekry het al het die departement van minerale bronne (DMR) daarteen afgeraai. Omgewingsgroepe was oor dié ontwikkeling ook bekommerd, gesien dat die myn bo-op die Elandsfontein akwifer geleë is. Dié akwifer is een van die grootste ondergrondse waterbronne in die streek. Ten spyte van teenkanting en vele appèlle teen die projek het die myn in 2022 sy eerste besending fosfaat uitgevoer.

Staalwerke

Die langverwagte Saldanha Staal-projek kry in November 1995 die groen lig. Dié projek van R4,7 miljard sou toe die grootste privaatsektor-nywerheidsontwikkeling in die Wes-Kaap wees. In 2016 berig Weslander oor Amsa se besluit om te “herbesin oor die toekoms van die Saldanha-staalaanleg”. Teen November 2019 is die aankondiging amptelik – dié aanleg sal teen Maart 2020 sluit.

Hoewel die aanleg nie meer staal vervaardig nie, kondig Amsa in 2021 aan hy oorweeg die oprigting van ’n logistieke middelpunt vir die hawe wat die aanliggende grond en infrastruktuur van die aanleg sal gebruik.

Verder stel ’n aspirant-onafhanklike kragprodusent belang om grond by die voormalige staalaanleg in gebruik te neem. In April 2022 maak die staalreus planne bekend om ’n 100 MW- hernubare-energieprojek aan te pak. Die lewensvatbaarheidstudies vir groenkragprojekte by die Saldanha-aanleg sal na verwagting teen 2023-’24 voltooi wees.

Kragopwekking

In Weslander van April 2021 is berig oor die bekommernisse en moontlike voordele van die beplande Karpowership-kragskip-projek in Saldanhabaai. Die projek behels die lewering van skip-tot-land-elektrisiteit deur vloeibare aardgas te gebruik. Die projek het sedertdien ’n hele paar spoedhobbels met betrekking tot omgewingsmagtiging beleef. Omgewings­groepe asook plaaslike vissers is veral teen die ontwikkeling gekant. ’n Groep teenstanders wend hulle tot die Kaapse hooggeregshof en in Junie 2021 word die omgewings­magtigingsproses vir die projek vir eers opgeskort. In April vanjaar bring die omgewingsgroep Green Connection ’n aansoek in die Gautengse hooggeregshof om die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit om drie elektrisiteitsopwekkingslisensies aan die Karpowership SA-maatskappye toe te staan, te hersien en tersyde te stel.

Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone (SBIDZ)

Saldanha Bay IDZ ‘will create almost 6 000 jobs’ lui ’n berig in Weslander in 2013. Die doel van die voorgestelde IDZ is om die skepping van ’n ingenieurs- en logistieke dienstekompleks aan te moedig, wat aan die behoeftes van die stroomop-eksplorasie- en produksiediensmaatskappye wat in olie- en gasvelde in Afrika, suid van die Sahara werk, voorsien. Deesdae is die fokus van die SBIDZ ook om rolspelers in die mariene sektor by die ontwikkeling in te sluit.

Visbedryf

Jaar na jaar blyk dit die kwotas vir vissers word kleiner en kleiner. Almal van bestaansvissers tot kommersiële maatskappye se totale toegelate vangste word hersien en in die geval van bestaansvissers, gesny.

In November 2019 berig Weslander oor bestaansvissers se ongelukkigheid oor die departement van omgewingsake, bosbou en visserye (DEFF) se aankondiging dat bestaansvissers nou deel vorm van die groep van 2 808 vissers met tussentydse verligting wat in die 2019-’20-seisoen 170 ton kreef mag vang.

Norton Dowries, ’n visser van Langebaan en plaaslike Coastal Links-lid, meen die staat is die oorsaak van die swaarkry van vissers­gemeenskappe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article