Sers. Franklin van Rooyen was die ondersoek- be­ampte in die moordsaak van ’n jong student wat met ’n mes doodgesteek is.


Amper vier jaar ná die moord op ’n finalejaar­student aan die Weskus is sy moordenaar in die plaaslike hof ’n swaar vonnis opgelê.

Lelethu Ralo, ’n finalejaarstudent aan Weskus Kollege, is in 2018 doodgesteek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, is Ralo op 27 November 2018 om 23:45 in die Vredenburgse informele nedersetting Ongegund vermoor.

Ralo, wat 21 jaar oud was toe hy vermoor is, is daardie nag in Nikkelstraat aangetref waar hy 34 keer met ’n mes gesteek is en aan sy wonde beswyk het.

Weslander het op 29 November 2018 oor die voorval berig.

Helfrich het vandeesweek gesê Khanyisa Mcasa (28), wat ook van Ongegund is, is aanvanklik saam met drie ander verdagtes weens die moord in hegtenis geneem.

Klagte teen die ander drie verdagtes is egter laat vaar.

Amper vier jaar later is Mcasa in April vanjaar in die plaaslike hof 20 jaar effektiewe tronkstraf opgelê.

Sers. Franklin van Rooyen van die Vredenburg-speurtak was die ondersoekbeampte in die saak.

Helfrich sê die rede waarom die nuus oor die vonnisoplegging nou eers bekend gemaak word, is omdat die saakdossier sedert die vonnisoplegging by die hof was en eers op 18 Mei by die Vredenburg-polisiekantoor terug ontvang is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article