Só lyk die menslike skedel en beendere wat op ’n bouperseel in Yzerfontein ontdek is.


Menslike oorskot is op die strand by Dial Rock gevind voordat beendere Maandag in Yzerfontein gekry is.

Volgens AO Yolanda Kotze, die woordvoerder van die Saldanha-polisie, het die oorskot wat op 26 Mei uitgespoel het ’n skedel en ’n deel van ’n rugstring ingesluit.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen omdat die beendere nog weefsel gehad het, wat beteken die mens aan wie dit behoort het, is moontlik nie baie lank terug nie dood. Daarom kan die beendere deur die polisie se forensiese afdeling ondersoek word.

Konstruksiewerkers het Maandag (30 Mei) menslike beendere en ’n skedel op ’n bouperseel by Fisherman’s Haven in Yzerfontein ontdek terwyl uitgrawings gedoen is.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, is die bouwerk op die perseel gestaak en die Erfenisstigting Wes-Kaap sal die beendere vir verdere ondersoek verwyder.

Die ontdekking van menslike beendere van historiese belang raak ’n al hoe meer gereelde verskynsel aan die Weskus, en beendere word dikwels deur boukontrakteurs gevind wanneer konstruksiewerk gedoen word.

Weslander het oor heelwat soortgelyke historiese ontdekkings in onder meer Saldanha, Paternoster, St. Helenabaai en ook Piketberg in die afgelope drie jaar berig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article