’n Moeder van twee skoolseuns vra my eendag ’n guns – ek moet asseblief saam met hulle op hul kreefbakkie by Paternoster gaan kreef trek. Hulle het ’n tweedehandse kreefbakkie en fuike met hul spaargeld gekoop en wil baie graag die koue water van die Atlantiese Oseaan aandurf.
Die kreefbakkie word by die bootlanseerplek naby die kreeffabriek in Paternoster te water gelaat. Die Seahorse-buiteboord-enjintjie vat vinnig, en daar gaan ons.
Ons besluit toe om eers die fuike by die bamboespolle naby aan die kuslyn uit te gooi, en as dinge goed werk, dan vaar ons nader na die granietrotse dieper die see in.
Die ankertou is so styf soos ’n kitaarsnaar gespan en vibrasies op die tou verraai dat die boot aan’t beweeg is – die anker sleep dus saam. Die wind waai sterk seewaarts en ons besef dat die kreefbakkie reeds 30 meter verder weggedryf het. As skipper skree ek: “Manne, trek die Seahorse sodat ons nader aan die fuike kan beweeg!” Die enjin stol botweg; die Seahorse gee sulke ligte hoesies – asof die trektou sy keel toetrek. Die tou aan die klipanker staan steeds stokstyf en ons dryf diepsee toe.
Die enigste uitweg was nou om nader aan die kus te roei. Die twee roeispane word blitssnel in die dolpenne gepas, en met die eerste trekslag toe breek die stuurboordkant se roeispaan in twee en die kopkant val oorboord in die seewater. Die halwe roeispaan word weer bereik en in die boot ingetel.
Ons dryf tussen die seebamboespolle rond. Die twee jongmanne is aan die agterkant van die kreefbakkie besig om die enjin weer aan die gang te probeer kry. Die volgende oomblik vat die Seahorse, maar terselfdertyd skiet die trektou met ’n sierlike boog deur die lug en verdwyn in die koue seewater.
Die skipper gryp sy Opinel carbone en sny ’n perfekte nuwe trektou uit ’n stuk ekstra kreeffuiktou en maak terselfdertyd ’n knoop aan die agterkant van die trektou wat netjies in die gleuf van die trektoukatrolletjie aan die bokant van die masjien inpas. Een trek aan die trektou en daar vat die Seahorse. Die skipper skree: “Stadig manne, stuur die bakkie om die bamboespolle . . . Pasop!”
Die volgende oomblik gee die enjin net een snik en stol – verstrengel in die seebamboes.
Met die derde trekslag kraak en breek die agterste dwarsbalk of plank (die transom) heeltemal stukkend – presies waar die Seahorse net bo die seewatermerk vasgeskroef is. Die noodsaaklike enjin verdwyn onder die seewater. Die nuwe trektou was egter langer as wat nodig was, en die stuurman gryp die agterste punt vas. Die knoop is gelukkig nog in die katrolletjie se gleuf ingeskuif en die Seahorse word uit die dieptes waar hy gans verlore was tot terug in die kreefbakkie getrek. Die enjin word weer vasgeskroef, maar het natuurlik nou ’n groter diepgang as voorheen. Die vonkprop moet uitgeskroef en drooggemaak word. Die sleutel pas op die nommer RJ8C-vonkprop en dit word vinnig uitgedraai en drooggevryf. Met die eerste trekslag vat die Seahorse.
Nou – direk terug wal toe.
Die polle seebamboes word meer in getal en is digter saamgepers. Daar is altyd die gevaar dat die bedrieglike Weskus-mis ook kan opkom. Ons ploeg nou direk deur die bamboespolle. Die volgende oomblik staan ons doodstil. Die skipper skree weer: “Stuurman, sit hom in reverse!” Pleks van in trurat terug beweeg, lig die hele stang uit die water uit, maar sonder die skroef. Die skroef is heeltemal deur die digte seebamboesstingels afgeslaan.
Daar sit ons – sonder aandrywing. Ons enigste uitweg was om die oorblywende een-en-’n-halwe roeispaan te gebruik om kant toe te roei.
Ons drie het later die aand tussen Paternoster en Stompneusbaai die kuslyn druipnat en in ’n gehawende toestand bereik. Ons kon eers die volgende dag probeer red wat nog te redde was. Die kreeffuike met ons vangs het iemand anders verwyder en ons het die toerusting nooit weer gesien nie. Die kreefbakkie was so erg beskadig nadat die gety dit in die nag tussen die rotse rondgeslaan het, dat dit afgeskryf is. Die tante was egter baie dankbaar dat die “ervare” en nederige skipper en haar twee seuns die uiters gevaarlike situasie so besonder knap hanteer het.. Stuur jou Weskus-onthoustorie na nuus@weslander.co.za vir moontlike publikasie.




