Ek het nooit gedink sulke oneerlike mense sal hier aan die Weskus woon nie, maar tot my groot ontnugtering moes ek dit self ervaar.

Ek is ’n 80-jarige man wat destyds twee huise in ’n kompleks in Vredenburg met al my spaargeld vir my aftrede gekoop het – die een huis om self in te woon en die ander een om uit te verhuur vir ’n inkomste om van te lewe. Ek het jare lank met die swak vakmanskap saamgeleef totdat die huis wat ek verhuur het deur bouinspekteurs en die polisie van my weggevat is.

My eie huis het sewe maande later amper op my kop inmekaar geval en ek het geen geld gehad om die skade te herstel nie. Die grootste gevaar was die teëls wat gelig en gekraak het – ek kon nie daarop loop nie – asook die motorhuis wat voortdurend oorstroom het sodra dit begin reën het.

Omtrent elke Donderdag word in die Weslander berig oor skelmstreke en diefstal wanneer dit by die boubedryf kom.

Dit gaan so sleg met die munisipaliteit dat ek inwoners teen hul onbevoegde amptenare wil waarsku.

Moet nooit op die plaaslike munisipaliteit se bouinspekteurs steun om te verseker dat jou huis op jou erf reg gebou word nie. Ek kan huise uitwys wat tot op die buurman se erf gebou is, en hier sluit ek die NHBRC in, want hulle weet blykbaar nie wat hul plig behels nie.

Die plaaslike bouinspekteur het nie eens ’n dubbelverdiepinghuis, wat nie in die kompleks gebou moes gewees het, raakgesien nie. Sowat 60% van die voorwaardes wat nagekom moes word alvorens ’n akte uitgereik kon word, is nie nagekom soos die raad voorskryf nie. Die kompleks is met ’n verkeerde akte, wat nie eens bestaan nie, gebou en voltooi en vir agt jaar het geen bouinspekteur, die NHBRC of die plaaslike speurdiens dit agtergekom nie. Hulle het eers daarvan bewus geword nadat ek hulle daaroor ingelig het.

Dit is my mening dat die kompleks met ’n vals akte tot stand gebring is. Ek het bewyse om hierdie stelling te staaf.

Die regte akte waarin die kompleks geregistreer is en die plan wat deur die landmeter uitgemeet is, verskil hemelsbreed van hoe die kompleks vandag lyk.

Sommige okkupasie-sertifikate is nooit uitgereik nie.

Een van die huise is onder straatvlak en in teenstelling met die regulasies gebou. Die water het in die motorhuis ingestroom en die mure het gemuf.

Dit is my mening dat die munisipaliteit, die NHBRC en spesifiek die bouinspekteurs van die munisipaliteit sowel as speurders van die polisie onbevoeg was om hul werk te verrig, en sodoende het ek meer as R5 miljoen in die proses verloor.

My voorstel aan voornemende huiseienaars is om toesig te hou oor die bouery asook om seker te maak dat al die nodige sertifikate bekom word. Doen navraag oor die bouer se bevoegdheid deur verwysings te kry en navraag te doen. Stap liewer die ekstra myl om seker te maak dat jy die regte bouer aanstel as wat jy nou goedkoop bou en later lang trane huil.

Dit geld nie net vir jou bouer nie, maar ook vir jou loodgieter en skrynwerker asook die een wat jou teëls gaan lê. Dring daarop aan dat die inspekteur van die NHBRC jou minstens een keer per week op jou erf ontmoet. Hier loop te veel skelm boukontrakteurs rond omrede almal wat nie werk het nie, nou bouers word.

Ek het my klagtes na LP Erik Marais geneem om ondersoek in te stel, maar het nog geen terugvoer ontvang nie. Ek het ook ’n skrywe aan Alan Winde gerig.


A.H. Oosthuizen,

Lampiesbaai

Senior amptenare van die Saldanhabaai-munisipaliteit het oor die afgelope jare dae en ure aan al mnr. Oosthuizen se navrae bestee. Alle dokumentasie en bewyse soos deur hom versoek, is aan hom voorsien. Die munisipale bestuurder het in sy laaste skrywe aan mnr. Oosthuizen bevestig dat al die interne bronne nou uitgeput is. Soos vermeld in die skrywe van mnr. Oosthuizen is die aangeleentheid ook aan verskeie ander forums gerapporteer, maar weens die gebrek aan enige gronde van nalatigheid en of wanoptrede aan die kant van die munisipaliteit is die aangeleentheid nie verder gevoer nie. – Saldanhabaai-munisipaliteit

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article