Dit gaan maar woes daar buite. Dit voel vir my amper asof dit deesdae erger is as vantevore. Dalkies het dit te doen met die druk wat ’n mens van letterlik alle kante ervaar. Kospryse, petrolpryse, kragpryse en … en … en …

Tussendeur moet ’n mens darem kan asemhaal ook, want, o gonna bonna, as ’n mens dit nie doen nie, lyk dit my, kan jy sommer van jou trollie af raak. So, ek begin deesdae al meer die kuns ontwikkel om die harde werklikhede rondom my met ’n ruim skoot humor die hoof te bied. Ek weet nie wat vir jou werk nie, maar vir my help hierdie stukkie self-terapie baie goed. Hoe en waar, mag jy gerus vra.

Wel, sommer met die intrapslag moet ek maar deesdae lig en lewe in die yskas en koskas van my praat.

My sak hoender ken al my stem as ek elke maand vir daai dytjies en boudjies die leviete voorlees. Hulle weet daar is niks van uitspattig wees nie. Elkeen moet sy kant bring vir die maand wat voorlê. Daarby ken hulle ook al die dril. Die sak moet leeggemaak word en elkeen kry sy plekkie vir iewers in die maand. Daar is vyf stukkies daarvan; netjies in elkeen se pakkie toegevou met hul lot vooraf bepaal – vir bredie, braai, pasta, slaai en vir ingeval. My sakkies hoender doen deesdae hul ding baie getrou.

Die geneuk kom egter as ek daai ekstra vleiserigheid saam met die hoendersak wil koop. Ek weet nie van jou nie, maar dis omtrent ’n pyn.

Ek loop deesdae wye draaie om daai pakkies skaaptjops. Die pryse laat ’n mens se bloeddruk sommer die hoogte in skiet. Soms is ek gelukkig om ’n gemarineerde varktjop (slegs een) teen ’n billiker prys te kry, om nie eens te praat van Oom Wors nie.

Daar is die dae in daai winkel dat die mense my half skeef aankyk as ek hoorbaar vir daai pak wors sê hy is sommer belaglik met sy prys. Ek meen maar, die verdomde stuk wors het mos nie matriek geslaag of ’n diploma in worskunde verwerf nie. Dis onder groot beswaar dat hy soms – net soms – my winkelmandjie haal.

En los deesdae maar die kaasgoed.

Dit moet ’n baie spesiale okkasie by my huurwoonstelletjie wees as die uwe ook my kortlys gaan haal.

Die rakke met pap, brood, koffie, suiker en melk ken my al so goed. Dis asof hulle elke keer breedweg glimlag as ek nog ’n keer iewers in ’n maand ’n draai kom maak. Weet ook maar alte goed hoe verleë ek is vir die noodsaaklikste van hulle. Soms laat hoor daai blikkie waatlemoenkonfyt so saggies van haar om te hoor of ek haar nie ook by Neef Brood wil sit nie. En nog ’n keer moet ek haar teleurstel, want ek hou maar nog dik met die blik appelkooskonfyt wat ek twee maande gelede op spesiale aanbod aangeskaf het.

My vinnige draai by die groenterak raak deesdae ook al minder van ’n plesier. Dis asof die aartappels en uie al sommer vooraf verskoning wil maak dat hulle al weer in die nuwe maand van prys verwissel het – net ’n bietjie hoër as die vorige keer. Die knoffelsusters het al vrede gemaak as ek hulle net een vuil kyk gee.

Die afdeling vir speserye, kookolies, blikkiesgoed en ander bybehore is deesdae een van daai dele in ’n winkel wat ek biddend benader. Dis asof daai botteltjie kookolie ’n mens deesdae wil uittart met sy windgatgeit.

Die laaste keer het ek so saggies in sy oor gefluister dat ek hom een van die dae bokveld toe gaan stuur, want so verleë is ek darem ook nie. Met my laaste besoek aan Oom Dokter het hy hoeka genoem dat ek aansienlik moet sny aan kosse met te veel olie-inhoud. So, Tannie Kookolie, jou dae is amper getel.

My groot liefde vir vis is egter die een waarvoor ek die ekstra myl sal loop – soveel so dat ek deesdae ekstra moeite doen om my emosionele bankbalans met my vriende in die visbedryf sterk te hou.

Daai vars Weskus-snoek hanteer ek deesdae met groot respek as dit my yskas haal. Daai klaar gevlekte snoek in stukkies saam met ’n paar vars harders is vriende wat weet hoe om die lang pad saam met jou te stap. Sit so ’n paar kuite en koppe daarby, en jy’s reg vir die maand of twee wat voorlê.

Met my yskas en koskas deesdae tot die minimum ingeperk, is dit nog net daai paar kilometers met my rooi gevaar, Kardoesie, wat ook baie minder ingespan word vir diens. Sy verstaan, want die tenk by Kasteel Motors word nie met water gevul nie. En daai kar-olie saam met die petrol is genoeg om jou aptyt vir ’n naweektrippie iewers heen te laat verdwyn. Nee wat, die voetewerk moet maar meer as gereeld sy ding doen – dis in elk geval gesonder ook.

Staan sterk, ou maat – die lewe wil gelewe word! Tel darem jou seëninge so tussendeur, want dit kon soveel erger gewees het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article