Dit is 818 dae nadat die eerste covid-inperkings geïmplementeer is dat die laaste van dié maatreëls afgeskaf is.
Dit is net meer as ’n week gelede dat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het gesigmaskers mag uiteindelik waai.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die aankondiging verwelkom en gesê dit is nou tyd om volstoom aan die “tweede pandemie” – werkloosheid – te werk.
“Dit is nou tyd vir alle inwoners om die lesse wat hulle die afgelope twee jaar geleer het, te gebruik om hulself veilig te hou. Dit gaan oor individuele verantwoordelikheid,” meen hy. Die premier het bygevoeg die voortslepende beperkings het ekonomiese groei en werkskepping belemmer, veral in die ontspannings- en gasvryheidsbedryf.
“Ek kan nie wag om weer die gedreun van ’n volgepakte sportstadion, die gegons van ’n teater wat vol is en konferensiesentrums wat bedrywig is, te hoor nie,” het Winde gesê.
Teen Dinsdag (28 Junie) was daar 78 gevalle van Covid-19 in die Weskus-streek aangeteken.
Hoewel baie Weskussers bly is om die einde van 818 dae agter ’n masker te ervaar, blyk dit sommige is nog huiwerig om heeltemal van hul maskers in openbare gebiede ontslae te raak.
In ’n steekproef op Weslander se sosiale media het 54,2% van respondente gesê hulle is liewer bang Jan as dooie Jan.
Dit was egter net twee stemme meer as dié wat met ’n blye hart van hul maskers ontslae geraak het.
Intussen is die ander maatreëls wat met die pandemie gepaard gaan, geskrap, hoewel sekere maatskappye en individuele werksplekke nog hul eie beleid oor die dra van maskers het.





